Agri/BusinessLatest

Darling Cellars skitter op jongwyntoekennings

Darling Cellars het vanmiddag weggestap met die Grootkampioentrofee op die jaarlikse Swartland Jongwynskou-prysuitdeling by Pulpit Rock buite Riebeek-Wes.
Die Shiraz/Pinotage (gehout) van Darling Cellars wat vir hul, naas die Absa Grootkampioentrofee, ook die Malmesbury Motors Kampioen Droë Rooiwynbeker besorg het, is in Klas 51:16 ingeskryf.

Dié kelder het ook die Vinochemtrofee, wat sedert ‘n paar jaar gelede toegeken word, vir die 5 beste inskrywings verower.
Daarmee saam het Darling Cellars ook die SAIL-trofee vir Kampioen Ander Witwynkultivar (Sémillon – gehout) ingeoes.
Die ander kelders wat trofeë ingepalm het, was:
Allesverloren:
SAIL Kampioen Versterkte Wyntrofee met hul Rooi Muskadel Jerepigo;
Babylon’s Peak:
Kotzé/Steyn Kampioen Shiraz-trofee met hul Shiraz (gehout),
CJP Chemicals Chenin Blanc-trofee met hul gehoute Chenin Blanc en
Malmesbury Toyota Kampioen Droë Witwyntrofee met hul gehoute Chenin Blanc en
Pulpit Rock Wines:
Kobus Basson Kampioen Pinotage-trofee met hul gehoute Pinotage en
Séan Nieuwoudt Cinsaut-trofee met hul gehoute Cinsaut.

Pieter-Niel Rossouw, Maggie Immelman, Eric Saayman en Reon Richter met die trofeë wat Darling Cellars ingepalm het.
Dewald Husamen en Francois Duckitt van Pulpit Rock met hul trofeë.
Danie Malan, Danielle Malan en Wilhelm de Vries van Allesverloren met die SAIL-trofee vir die Kampioen Versterkte Wyn
Bertus Kloppers van Santam, borg van die Swartland Wyn-en Olyfroete en Jolene Janse van Rensburg, bestuurder van die roete, proe van die top-jongwyne uit die streek.


Volgens Pieter-Niel Rossouw, voorsitter van die Swartland-wynskouvereniging, is die resultate van die 2020-oesjaar ‘n aanduiding dat die streek se wynmakers hul kennis en ervaring kan gebruik om die regte besluite te neem onder uitdagende omstandighede.
Hy het gesê die jongwynskou is ‘n unieke kompetisie omdat die speelveld gelyk is en alle wyn uit een oesjaar kom.
Rossouw het bygevoeg dat die Swartland ook ‘n besonder diverse wynstreek is en dat wyne in ide Swarltand gemaak is met druiwe uit die streek.
In die uitdagende tye, ook vir die wynbedryf, het die deelname aan die Nasionale Jongwynskou, waarvan dié Swartlandtoekennings deel vorm, vanjaar ook afgeneem soos met ander kompetisies in die bedryf.
Die streekskompetisie word deur die Swartland Wyn- & Olyfroete gekoördineer.
Die nasionale wenners word môre, 30 September, aangekondig.
Sewe kelders uit die Darling en Swartland Wyn van Oorsprong-areas het vanjaar deelgeneem en beïndruk met 4 goue, 29 silwer en 21 brons toekennings.

Daarbewenens is ‘n groottotaal van 24 klaswenners aangewys vanuit die goue en silwer toekennings.
Die Swartland-wynskouvereniging sê in ‘n verklaring hierdie “besonderse wyne staan as toonbeeld in hul kategorieë en het in aanmerking gekom vir die onderskeie streekstrofeë, buiten die Groot Kampioen-trofee waarvoor slegs wyne met goue toekennings verkiesbaar gestel is.”
Vanjaar se beoordeling het unieke uitdagings gebied te midde van die Covid-19 pandemie. Die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV), organiseerder van die nasionale kompetisie, is die eerste organiseerder van wynkompetisies wat wêreldwyd die leiding geneem het met die implimentering van sanitasiestelsels vir wynbeoordeling.

Foto: SA Jongwynskou

‘n Protokol-raamwerk vir virusbeskerming, wat deur ʼn gesondheidspraktisyn met ervaring van die ontwikkeling van relevante riglyne vir grootskaalse industriële aanwending, is ingespan.
Sanitasiestandaarde vir wynkompetisies is op dié manier tot ʼn nuwe vlak geneem met die gebruik van ultra-violet and osoon lug-en-oppervlak sanitasietegnologie om die beoordelingslokaal op ‘n daaglikse basis te ontsmet.
Die Jongwynskou word beskou as ‘n tegniese kompetisie wat aan wynmakers die geleentheid bied om hul wyne van die nuutste oesjaar teen die van hul eweknieë te meet, en ook die gehalte van nuwe wyne en wynstyle op ‘n groter platform te toets.
In die Swartland-streek kom wyne met silwer- en goue toekennings in aanmerking vir klaswenner-toekennings en die streek se onderskeie trofeë.

Leave a Reply

error: Content is protected !!