Darling Cellars, Pulpit Rock op nasionale podium
Met die bekendmaking van die Nasionale Jongwynwenners vir 2020, het Darling Cellars en Pulpit Rock weer die groter Swartland se naam hoog gehou met plekke op die podium.
Nadat hulle gister die Swartland se Absa Groot Kampioentrofee met hul Shiraz/Pinotage-versnit ingepalm het, het Darling Cellars nou ook twee SA kampioenjongwyne.
Die Shiraz/Pinotage het die nasionale Vine Products-trofee vir die SA Kampioen Rooi versnit verower en was ook die wenner van die Peter Barlow-toekenning vir klaswenner in klas 51:16 (Enige rooi kultivar versnit – gehout).
Darling Cellars se ander SA Kampioen is die gehoute Merlot wat met die Libertastrofee vir die SA Kampioen Merlot weggestap het. Dié wyn het ook die WH Lategantrofee vir die klaswenner in klas 63:19 (Merlot gehout) ontvang.
Pulpit Rock buite Riebeek-Wes het op die nasionale skou die louere in klas 70:3 vir Pinotage ingeoes en só seker gemaak die Prof CJ Theron-trofee staan vir die volgende jaar in hul trofeekas.
“Die Pinotage-wyne het vanjaar baie goed vertoon en die oesjaar se gehalte is goed weerspieël in goeie kleur, struktuur en sagte, afgeronde tanniene,” sê die beoordelaars.
Die totale inskrywings toon ‘n afname, soos deur die organiseerders verwag in die lig van die Covid-19-beperkings. Die beoordelaars se algemene kommentaar was egter dat die beoordeelde wyne van uitstaande gehalte was.
Wat rooiwyne betref, was al die panele eenparig dat 2020 ‘n baie goeie jaar was. Die versnitwyne was volrond en het meesal goeie balans getoon, terwyl Merlot ook “pragtige, belowende en vol wyne met sagte tanniene opgelewer het”.