‘Sport kan probleme oplos’
Sport is die voertuig om baie van ons land se probleme uit te sorteer.
Met dié boodskap, luidens ‘n verklaring, het die Malmesbury Toutrekklub die amptelike bekendstelling gedoen van die nasionale junior toutrekkampioenskap wat van 26 tot 28 Maart 2021 op dié dorp plaasvind.
Die bekendstelling is “gesamentlik deur die plaaslike toutrekklub en Malmesbury Landbougenootskap gereël.
“Wanneer ‘n dorp se munisipaliteit en sakelui saamwerk om honderde toutrekspanne en hul gesinne van regoor die land te ontvang, kan dit die dorp ‘op die verhoog plaas’,” het die gaste gehoor.
“Só ‘n kampioenskap lok jaarliks tussen 5000 en 8000 besoekers. ‘n Nuutjie by die 2021-byeenkoms is die laaste dag se kragmeting, wanneer internasionale spanne teen die sterkste SA-juniors van die byeenkoms sal kompeteer.
“Die kameraderie, kultuur en dissipline van toutrek as spansport, asook die fiksheid wat toutrek meebring sodat deelnemers rég is wanneer wintersport kort daarna volg, is ook belig.
“Sedert 2000 het toutrek op plattelandse dorpe begin groei. Malmesbury is bevoorreg om uiters kundige mense in die toutrekbedryf te hê – manne soos Bennie Geldenhuys, Erhard Buhr en ander oud-nasionale trekkers wat nog steeds die sport aktief bevorder,” sê Rentia van den Berg, voorsitter van die Malmesbury Toutrekklub.
“Ons klub het in 2017 weer aktief geraak met junior en senior toutrekkers. Selfs sesjariges trek ywerig saam.”
“Daar word ‘n beroep gedoen op alle besighede en individue wat by hierdie groot geleentheid op die Malmesbury-kalender betrokke wil raak – hetsy as borg, finansieel of in dienstekapasiteit – om vir Van den Berg (060 508 5144) of Geldenhuys (083 412 3069) te skakel.