Wyk 2 straks langer sonder raadslid
Die tussenverkiesing van môre waarin ‘n nuwe munisipale raadslid vir Wyk 2 in Moorreesburg verkies sou word, gaan moontlik uitgestel word.
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het ná die jongste Covid-inperkings tot Vlak 4 besluit om die kieshof te vra om al agt tussenverkiesings wat môre in vier provinsies sou plaasvind, uit te stel.
Daar is vyf kandidate vir die Swartland Munisipaliteit se Wyk 2 nadat die vorige raadslid, Clive Pypers, vroeër bedank het.
Die kandidate wat vir dié verkiesing geregistreer het, is Elmar Charles Matthew Apollis (ANC), Adriaan Petro Markus (ARA – Africa Restoration Alliance), Sosimelela Mbangatha-Maqoko (EFF), Desmond Christopher Pypers (DA) en Sidney van Rooyen (Onafhanklik).
https://diecourant.co.za/2021/06/21/so-lyk-kandidate-vir-sm-se-wyk-2/
Met die druktyd was die hof se uitslag en meer besonderhede oor ‘n moontlike volgende datum nie bekend nie.
*Intussen verstryk die termyn van die ander raadslede ook vanjaar en is die nasionale munisipale verkiesings vir 27 Oktober geskeduleer.
Weens die Covid-pandemie het die OVK ‘n ondersoek gelas om te bepaal of dié verkiesing wel vry en regverdig kan plaasvind. Die ondersoek word gedoen deur die voormalige adjunkhoofregter Dikgang Moseneke. Die moontlikheid bestaan dus dat die verkiesing eers later gehou sal word.