Só lyk konsep vir nuwe M’bury-hoërskool
Die Swartland Munisipaliteit het reeds met die publieke deelnameproses vir ‘n nuwe skool in die bloekombos agter die Hoërskool Swartland se Van Imhoff-seunskoshuis begin.
Die terrein (4 hektaar) sal dan, volgens die beplanning, van ‘n groot stuk grond (770ha) van die munisipaliteit afgesny word en van die bestaande sonering na gemeenskapsonering verander word ten einde ‘n skool te kan huisves.
Dit val binne Malmesbury se stedelike randgebied.
Die grond is volgens die munisipale ruimtelike ontwikkelingsraamwerk van 2019 vir sodanige gebruik geoormerk.
As die hersonering goedgekeur word, kan die grond dan met ‘n nuwe proses aan nuwe eienaars vervreem word.
Die voorgestelde ontwikkeling behels die vestiging van ‘n hoërskool en gepaardgaande infrastruktuur op dié gedeelte van erf nommer 327.
Die huidige konsep volgens die publieke deelnameproses sluit etlike geboue in, waaronder ‘n administrasiegebou, 4 leerderklasblokke, 2 tegniese klasblokke, ‘n koffiewinkel en ‘n veeldoelige sportveld en 4 netbalbane.
Die beoogde geboue sal 3250m² beslaan.
dié courant het verlede jaar berig oor die planne van die Mos-inisiatief (moedertaal in onafhanklike skole) wat ‘n hoërskool daar wil bou.
Luidens hul webwerf is Die Mos-inisiatief (moedertaal in onafhanklike skole) ’n “privaat maatskappy wat deur die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) gestig is met die doel om ’n Afrikaanse skolenetwerk daar te stel om uitmuntende onderrig in Afrikaans te verseker en uit te bou”.
Roedolf van der Westhuizen, uitvoerende hoof van die Mos-inisiatief het toe gesê: “As organisasie lê ons hart by innoverende, inklusiewe toeganklike onderrig in Afrikaans.
“Ons wil rerig graag ook op die platteland veral op ‘n plek soos Malmesbury verseker dat daar nog vir baie jare goeie toegang tot kwaliteit onderrig in Afrikaans sal beskikbaar wees.”
Hy het bygevoeg: “Saam met die ongelooflike groei wat in Malmesbury ekonomies aangaan, sien ons natuurlik die geleentheid om ook daarmee saam ‘n onafhanklike Afrikaanse skool daar te vestig.
“Die skool sal nie noodwendig bestaande skole enigsins benadeel nie, maar eerder hulle versterk en nóg ‘n moontlikheid vir kinders en hul ouers gee vir kwaliteit onderrig in Afrikaans.”
Die groep het “tans drie skole landswyd en ‘n aanlyn tuisskool wat sedert die koms van die pandemie ontstaan het – enetjie in Pretoria, een in Rustenburg en een in die Noord-Kaap naby Jan Kempdorp.
“As ons die stuk grond bekom het en al die regte is in plek, dan praat ons van 18 maande op die meeste. Dit is definitief op die kort termyn.”
Oor skoolgeld het hy gesê die beleid is dat dit moet toeganklik wees en dus bekostigbaar.
“Dit sal natuurlik ‘n bietjie duurder wees as ‘n Model C-skool, want ons kry geen subsidie van die staat af nie, maar ons wil definitief nie in die duurste segment van private onafhanklike skole wees nie. So dit moet bekostigbaar wees om by te woon.”
*Die Futurum Akademie by Tadcaster tussen Jan Kempdorp en Hartswater het verlede jaar hul eerste matriekklas gehad.
Die skoolgeld daar vir 2022 is tans: R2500 per maand vir 12 maande (Gr. R tot Gr.7) en R2900 per maand vir 12 maande (Gr. 8 tot Gr.12) Registrasiegelde vir 2022 is R700 per leerder (eenmalig betaalbaar)