2 ‘nuwe’ SM-geboue ‘baan weg vir uitbrei’
Bouwerk van R10m om die ou Nedbank en Standardbank-geboue op Malmesbury op te knap en in te rig, vorder en die Swartland Munisipaliteit verwag om dit teen die middel van April te betrek.
Die munisipaliteit het by navraag verduidelik dat hulle ‘n “dringende behoefte het aan addisionele kantoorspasie asook diensleweringspunte wat meer sentraal geleë en toeganklik is vir ons kliënte”.
Die munisipale bestuurder, Joggie Scholtz, sê “dié twee geboue het op ‘n baie geleë tyd en op min of meer dieselfde stadium in die mark gekom en die munisipaliteit het die geleentheid benut om dit via tenderprosesse te bekom.
“Die potensiaal van die geboue om aan die munisipaliteit en sy kliënte se diensleweringsbehoeftes te voldoen, is opgeweeg teen die sowat R50 000 per maand wat tans bestee word om twee geboue in die sentrale sakekern van private eienaars in te huur.”
Hy sê dié huurooreenkomste loop binnekort uit en sal nie weer hernieu word nie.
Die munisipaliteit het die twee eiendomme van onderskeidelik Nedbank en Swartland Handelshuis-beleggings gekoop vir ‘n totaal van R16,5 miljoen, “wat min of meer ooreenstem met die munisipale waardasies daarvan”.
Met dié geboue sal die munisipaliteit ook bykans 1500m² meer benutbare spasie hê as wat tans die geval is met die huidige huureiendom – 2000m² teenoor 530m².
Scholtz sê die geboue sal onder andere gebruik word om nuwe kassierpunte te huisves asook kantoorspasie vir die munisipaliteit se finansiële dienste-afdeling en die munisipale raadslede.
Volgens hom is daar nie tans planne om die geboue se name te verander nie.
Die Standardbank-gebou het ‘n Eduardiaanse boustyl en is op Malmesbury se historiese roete. Dit dateer uit die vroeë 1900’s en is tipies van die sekulêre boustyl van daardie tyd met klassieke elemente soos Griekse pilare, geweldriehoeke en Romeinse boë.
Die koste van bouwerk aan die twee geboue beloop onderskeidelik ongeveer R4,9m (Sonder BTW) vir die ou Nedbank-gebou en R5,1m (Sonder BTW) vir die ou Standardbank-gebou.
Scholtz voeg by dat die geboue nie net aan die munisipaliteit se huidige behoeftes sal voldoen nie, maar die owerheid ook “in staat stel om op die langtermyn uit te brei soos die Swartland aanhou groei en uitbrei”.