Parade skop Riebeek se Mardi Gras af
Met die tweede maand van 2022 nou iets van die verlede is daar weer die eerste naweek van die nuwe maand om na uit te sien en soos gebruiklik is dit weer tyd om fees te vier met die Riebeekvallei First Fridays.
Vandeesmaand gaan First Fridays weer groot en die tema vir hierdie naweek is Mardi Gras.
Die vieringe skop Vrydag af met ‘n Mardi Gras-parade in Riebeek-Kasteel.
Daar is ‘n rits pryse te wen vir deelnemers. Om in aanmerking te kom vir een van die pryse, moet deelnemers registreer per epos ( sean@inthecity.co.za) of Whatsapp (073 307 8289 ) met ‘n kontaknaam en die aantal deelnemers.
Die pryse op die spel is vir die Beste vlot (R2000) en kostuumpryse vir Beste manlike deelnemer (R1000), Beste vroulike deelnemer (R1000), Beste groep (R1000) en Beste troeteldier: R250.
Deelnemers sal om 17:30 op die hoek van Hoofstraat en Royalstraat in Riebeek Kasteel (tussen die Royal Hotel en NG Kerk) vergader.
Die naweek is propvol spesiale aanbiedinge, ekstra handelsure en vermaak asook die maandelikse kontreimark op die plein in Riebeek-Kasteel (09:00-13:00). Sondag is daar ook weer die maandelikse woordkunsbyeenkoms, Poetry Jam, by die Royal Arts Town-amfiteater.