WD erken vir uitnemendheid in kusbestuur
(Persverklaring) – Die Weskus Distriksmunisipaliteit (WD) het ‘n toekenning ontvang van die Wes-Kaapse regering vir sy bydrae tot kusbestuur in die provinsie.
Die munisipaliteit se kusbestuur-projek, wat as die EPWP-skoonmaakaksie begin het, het later uitgebrei om verskeie kusbestuur- en biodiversiteitsake rakende die geïntegreerde kusbestuurwet in te sluit. Die WD het ‘n Silwer-toekenning ontvang in die kategorie vir Beste Munisipale Projekte.
Die projek wat die kusgebiede van die Bergrivier, Elandsbaai en Papendorp insluit, dek ongeveer 120 km kuslyn. Afgesien van die positiewe impak daarvan op die omgewing, verminder hierdie projek werkloosheid en dra by tot vaardigheidsontwikkeling in die area. Werkers word opgelei en toegerus met vaardighede om te verseker dat hulle entrepreneurs kan word of werk by alternatiewe werkgewers kry.
Volgens die projekbestuurder, Charles Malherbe, is dit ‘n holistiese kusbestuursprogram en sluit verskeie projekte in. “Ons probeer buigbaar en pro-aktief wees wanneer ons met kusbestuursake begin. Projekte sluit die skoonmaak van strande en riviermondings, verwydering van dooie walvisse en robbe, ondersteuning tydens rooigety, bystand tydens voëlgriepuitbraak en aanmelding van onwettige aktiwiteite aan die kusgebiede in,” het Malherbe gesê. – (Persverklaring)