Agri/BusinessCommunityNews

Vraag na hospitaalbeddens in Swartland styg

Die behoefte aan beddens in ‘n private hospitaal in Malmesbury om die streek en die opvanggebied verder noord te bedien, het die laaste paar jaar drasties toegeneem.
Só het ‘n studie getoon wat deur die Crestcare-hospitaalgroep, wat die nuwe hospitaal in Malmesbury sal bestuur, laat doen is.

Kit Wostenholm van Crestcare sê toe hul reg aan die begin na hierdie hospitaal as opsie gekyk het en ‘n voorlegging aan die departement van gesondheid moes doen, moes hul ‘n behoorlike lewensvatbaarheidstudie doen.
Dit het ‘n wye demografiese ondersoek deur eksterne konsultante ingesluit om die samestelling van die bevolking, epidemiologie (analise van die verspreiding, patrone en oorsake van gesondheids- en siektetoestande) en die behoefte in die streek te bepaal. Ook die feit dat, naas Malmesbury, Swartland en omliggende gebiede, daar diegene is wat vanuit die noorde met die N7 suid reis vir gesondheidsorg en nou nie meer na Kaapstad of die Paarl sal hoef te gaan nie.

Kit Wostenholm van die Crestcare-hospitaalgroep.

Die studie is voor die Covid-19-epidemie gedoen.
In daardie stadium het die studie getoon dat die behoefte 101 beddens is om die streek te bedien.
Net voor bouwerk aan die nuwe hospitaal begin is, is ‘n ander onafhanklike maatskappy aangestel om weer na die primêre en sekondêre verwysingsgebiede te kyk en ‘n behoeftebepaling vir aantal beddens te doen. Ook om te kyk of Covid-19 daarop ‘n impak gehad het.

Hier sal die nuwe hospitaal se chirurgiesaal gehuisves word.

Urban-Econ het bevind dat daar toe reeds 158 beddens benodig is met ‘n geprojekteerde 170 beddens in 2025.
Die nuwe hospitaal wat nou in aanbou is, het ‘n lisensie gekry om aanvanklik 84 beddens te huisves. Die beplanning en konstruksie word egter só gedoen om in ‘n tweede fase nog 24 tot 28 beddens te kan byvoeg met ‘n tweede vleuel wat ook ‘n ekstra intensiewe sorg-eenheid kan huisves. Die vierde teater wat tans nie in die eerste fase toegerus sal word nie, kan dan ook in werking gestel word.

Een binnehof op die 1ste vloer met die vensters en deure van die toekomstige mediesie saal.

Die 84 beddens in die eerste fase sal bestaan uit
28 beddens in die chirurgiesaal,
25 in die mediese saal,
10 in die kraamafdeling,
8 in die pediatrie-afdeling,
8 in die intensiewe sorgafdeling asook
5 in die neonatale intensiewe sorg-afdeling.
Daar sal ook ‘n ongevalle/trauma-eenheid met 8 beddens wees.

Van die eerste vloer geneem aan die voorkant van die hospitaal in aanbou.

Die hospitaal word op twee vlakke gebou met die hoofingang aan die oostekant wat uitkyk op die Glen Lily-plaas en Kasteelberg in die verte.
Dit is op ‘n aparte eiendom met toegang vanuit Piketbergweg of van ‘n pad langs die N7 wat van die groot nuwe vyfbeen-sirkel agter die nuwe winkelsentrum verby loop asook toegang van die aanliggende nuwe winkelsentrum.
Op die grondvloer sal die spreekkamers van dokters, die ontvangsarea, apteek, ‘n koffiewinkel/kafeteria, die administratiewe kantore, patologie-afdeling, radiologie-afdeling en die ongevalle/trauma-eenheid wees.

Die sale en teaters (daar sal aanvanklik drie van die vier teaters toegerus word vir operasies), die sentrale sterilisasiedepartement en die kombuis sal op die eerste vloer gehuisves word.
Die hospitaal is ontwerp en word ook gebou om plantryke binnehowe te ontwikkel waar pasiënte en besoekers tyd kan deurbring. Dit bring ook meer natuurlike lig in die gebou.
As als volgens plan verloop, sal die Malmesbury Crestcare-hospitaal in Junie/Julie 2024 sy deure open.

Leave a Reply

error: Content is protected !!