’50 000 mense kan hospitaal jaarliks besoek’
Daar sal na verwagting 50 000 mense jaarliks deur die nuwe private Malmesbury Crestcare-hospitaal se deure beweeg. En 7 000 daarvan sal pasiënte wees wat toegelaat word.
Só het Ngange Nongogo van die Summit Africa private beleggingsgroep gesê by ‘n bekendstellingsgeleentheid op die konstruksieterrein.
Verskeie belangstellende medici het ook die bekendstelling bygewoon. Onder hulle was plaaslike dokters en ook van Piketberg en ander wat in die Swartland grootgeword het.
Nongogo het gesê Summit bestuur tans kapitaal van ‘n raps meer as R2 miljard en belê in vier sektore – onderwys, finansiële dienste, gesondheid en ondersteunende inligtingstegnologie. Summit is die vennoot en meederheidaandeelhouer in die bestuur van gesondheidsfasiliteite deur Crestcare.
Nongogo het die dokters by die bekendstelling verwelkom en as die lewensbloed van die hospitaal beskryf.
Hy het melding gemaak van die geskiedenis van Malmesbury wat ontstaan het as ‘n gesondheidnodus met goeie gesondheidsorg deur die gebruik van die genesende warmbronwater en dat die dorp bykans 200 jaar gelede om dié warmbron geproklameer is.
Nou, 200 jaar later, het Nongogo gesê, is ons ook hier om goeie gesondheidsorg vir die streek te lewer – al is dit darem anders en op ‘n ander vlak as die warmbronwater.
Hy het gesê dat die nuwe Malmesbury-hospitaal die 12de gesondheidsfasiliteit (sommige van hulle psigiatriese fasiliteite) is wat Summit saam met Crestcare sal bedryf. Dit is dan net meer as 500 beddens en hulle beplan om dit oor die volgende twee jaar tot 900 te verhoog.
Die bykans R300 miljoen wat in die nuwe hospitaal belê word, sal gewis ‘n groot impak hê in die bediening van die mense van die streek, het hy bygevoeg.
Hulle verwag dat ten minste 50 000 mense jaarliks deur die hospitaal sal gaan – vir konsultasie, opname, behandeling of besoek aan familie in die hospitaal.
Die vooruitskatting is dat 7 000 van hulle pasiënte sal wees wat in die hospitaal opgeneem word.
Nongogo het bygevoeg dat daar reeds 100 tydelike werksgeleenthede geskep is met die konstruksie van die hospitaal en dat daar na raming bykans 200 permanente werksgeleenthede sal wees as die hospitaal in bedryf is. Hy het gesê elke werksgeleentheid in Suid-Afika ondersteun ongeveer vier verdere familielede en die belangrike bydrae wat daardie salarisse tot die streek se ekonomie en gemeenskap sal maak, beklemtoon.
Johan van Wyk van Twin City wat die ontwikkeling van die hospitaal behartig en dit sal besit, vertel dit was ‘n strategiese besluit vir die maatskappy om na die Wes-Kaap uit te brei.
Hulle is deur Walter Dhooge van Terray van die Malmesbury-hospitaalprojek vertel.
Van Wyk het die Swartland Munisipaliteit geloof en bygevoeg dat met hul ondervinding met ander plaaslike owerhede wie se dienslewering nie in die top-5 val nie, dit ‘n besondere ervaring was om met Swartland sake te doen.
Hy het ook gesê dat die moontlikheid dat hulle later hul beleggings in Malmesbury kan uitbrei, daarom nie uitgesluit is nie.
Reg Magennis, hoof van Crestcare, het gepraat oor die uitdagings in die beplanning en voorbereiding om seker te maak als is in plek asook dat die regte toerusting op die regte tyd bekom word om die hospitaal toe te rus.
Hy het bygevoeg dat ook die aanstel van die regte personeel ‘n uitdaging is en dat daar tans ‘n groot tekort aan verpleegpersoneel in die land is. “Ons tekort aan verpleegpersoneel is ongeveer 60 000. Ons het 180 000 maar kort nog 60 000.”
Hy het ook melding gemaak van nuwe sagteware wat hulle ontwikkel om kommunikasie ten opsigte pasiëntinligting tussen bv. huisdokters en die hospitaal-spesialiste te vergemaklik en vertroulik te hou.