‘Swartland regte plek vir woon; kinders grootmaak’
Swartland is die regte plek om te woon en te speel, maar ook om jou kinders groot te maak.
Só het raadsheer Harold Cleophas, uitvoerende burgemeester van die Swartland Munisipaliteit (SM), gesê by die bekendstellingsgeleentheid op die konstruksieterrein van die nuwe Malmesbury Crestcare-hospitaal wat tans gebou word.

Hy het die ontwikkelaars bedank vir die ontwikkeling en dat hulle die Swartland en Malmesbury gekies het.
“Ek kan julle verseker, julle sal nooit spyt wees dat julle Swartland en Malmesbury gekies het nie.”
“Ek dink dit is lankal tyd vir ‘n private hospitaal in ons streek. Maar ek wil nie die dienste wat ons steeds van ons staatshospitaal op Malmesbury ontvang, onderskat nie. Hulle lewer goeie diens onder omstandighede.”

“Vir toekomstige ontwikkelaars. Swartland lewer goeie, uitstekende, skoon regering. Ons is ‘n goedbestuurde munisipaliteit. Ons het ‘n oopdeurbeleid vir ontwikkelaars wat in die streek wil belê.
“Ons sal tyd maak vir enige ontwikkelaar wat wil belê in die Swartland.”
Joggie Scholtz, munisipale bestuurder, het gesê dit is ‘n wonderlike dag om by die bekendstelling van die hospitaalprojek te wees.
“Ons het sedert 2008 gesien hoe ontwikkelaars kom en gaan en ons is bevoorreg dat ons die regte ontwikkelaar ontmoet het om hierdie hospitaal en die aangrensende eiendom te ontwikkel.”

Scholtz het ook vertel van ‘n paar uitdagings in die proses om die nodige goedkeurings te verkry.
In een stadium, sê hy, het SM gedreig om die provinsiale padingenieur by die premier te verkla, omdat hy nie die groot nuwe vyfbeensirkel my die N7-afrit wou goedkeur nie en op dié manier moontlike ontwikkeling in die wiele sou ry.

Die munisipaliteit het toe ook gesê hulle sal, indien nodig, daardie sowat 150m van Voortrekkerstraat van die provinsie oorneem ten einde te verseker dat die sirkel gebou kan word. Hy het bygevoeg dat Sanral dié inisiatief vanuit die staanspoor ondersteun het.
Die koste van die sirkel en die nuwe De Grendelweg wat ‘n toegangsverbinding met Piketbergweg vorm, word gedeeltelik deur die owerheid gedra. Die grond vir De Grendelweg is van die aanliggende bestaande skougronde-eiendom afgesny en gehersoneer. Daar is ook ‘n gedeelte afgesny om ‘n nuwe substasie te huisves.

Scholtz het by die bekendstelling gesê die drie grootste struikelblokke vir ontwikkelaars is rompslomp, tyd en die gebrek aan beskikbaarheid van grootmaatdienste.
“It is not our wealth that created our infrastructure. It is the other way round. It is our infrastructure that created our wealth.”
Hy het bygevoeg dat die munisipaliteit die uitdagings van ontwikkelaars verstaan. “Daarom het ons ons verbind dat as alles reg is in terme van voorskrifte wanneer planne ingedien word, ons dit sal goedkeur binne drie weke.”
Hy het die ontwikkelaars bedank vir hul visie om dié ontwikkeling te doen.