Vrae oor sakekern en ‘Mall’ altyd relevant
Met die nuwe Streekwinkelsentrum (De Zwartland Markt) op Malmesbury wat na verwagting laat vanjaar sy deure sal open, is die vraag van die impak daarvan op ander se sake in die dorp altyd een wat opduik.
Toe die streekwinkelsentrum aanvanklik 10 jaar gelede goedgekeur is (ander ontwikkelaars en ‘n ander ontwerp) het dié courant navrae gedoen oor idees om lewe in die middedorp (sentrale sakekern) te behou.
Hier is die berig van Junie 2013.
•DOEN BASIESE GOED IN JOU BESIGHEID REG
Opsies vir SSK vs Mall
Die agteruitgang van ‘n dorp se sakekern (SSK) ná die bou van ‘n groot winkelsentrum is ‘n wêreldwye verskynsel. Ná die provinsiale goedkeuring van ‘n streekwinkelsentrum in Malmesbury onlangs, het dié courant gaan navrae doen oor idees om lewe in die middedorp te behou.
“Die goedkeuring is pas gegee en baie dinge moet nog gebeur voordat die Mall gebou word,” sê André Mouton van die maatskappy wat ses Wes-Kaapse winkelsentrums (waaronder die De Bronsentrum in Malmesbury) bestuur.
“Sakelui moet kalm bly. Daar is geen kitsantwoorde nie. Die belangrikste om te onthou, is dat daar beslis kompetisie op pad is. Daarom moet élke huidige eienaar die ‘back to basics’-ding doen. Gaan maak weer seker dat jy kwaliteitdiens en -produkte lewer met netjiese, skoon fasiliteite en behulpsame en goed opgeleide personeel. Wanneer die sentrum dan kom, kan diegene wat in die historiese deel agterbly, seker maak dat dit steeds ‘n aangename ondervinding bly om daar sake te doen,” het hy bygevoeg.
“Eintlik is ons al die laaste drie tot vier jaar besig om die sakekern op te bou,” sê die burgemeester van die Swartland Munisipaliteit (SM), Tijmen van Essen.
“As ons kyk na die Weskus Kollege, die beoogde toerisme-fokus in Riebeekstraat en rondom die rivier-oewer, die betreklik nuwe Prima-sentrum onder in die dorp én die beoogde ontwikkelings rondom Spar, lyk dit vir my ons is op die regte pad om die tradisionele sakekern te beskerm.
“In wese kan die SM nie voorskryf watter besighede moet waar opgaan of wie moet dit besit nie. By die SM wil ons die omgewing regkry waarbinne sakelui hul besighede kan vestig, maar ons kan nie te voorskriftelik wees oor wie die nuwe eienaars van geboue kan wees nie.”
Van Essen sê eienaars van geboue moet self die oordeel aan die dag lê wanneer sake beklink word: “Uiteindelik lê die vraag daarin of die sakeman ook wil help om die dorp te beskerm – dis onsself wat onsself en dit wat ons eie is, moet beskerm. Verder kan ek nie sien dat daar binne die volgende twee jaar ‘n graaf in die grond gesteek sal word vir die Mall nie.”
Erik Louw, die voorsitter van die Malmesbury Sakekamer, het voorgestel dat die projek se fases ‘n bietjie geskommel word: “In plaas daarvan om die Mall en winkels eerste te bou, kan ons (die Sakekamer) in gesprek tree met die ontwikkelaar en hulle probeer oortuig om eers meer voete in die dorp te kry met byvoorbeeld nog groepbehuising en dalk die privaathospitaal. Sodra daar dan meer voete op die dorp is, is die behoefte aan winkels mos groter as wanneer dit gebou word voor Malmesbury meer inwoners kry.”
Patrys Bester (ondervoorsitter van die Sakekamer) het gesê hy hoop elke besigheidsman, die munisipaliteit en die gemeenskap sal saamwerk om dié groei en ontwikkelings te bestuur. “Ons het nog tyd om seker te maak die middedorp word beskerm teen agteruitgang. As die ontwikkeling in fases kan kom, soos die voete/klante meer raak, sien ek meer kans hiervoor.”
Mouton het gesê hoewel sterkter nasionale huurders bes moontlik na die nuwe sentrum toe sal skuif, “is die huidige ekonomiese klimaat een ernstige faktor wat die pas sal aangee. Verder sal die huurkoste in dié sentrum aansienlik duurder wees as in die sakekern. Dit speel ook ‘n groot rol om besighede in die sakekern te behou.”
Stuartt Pringle, raadslid vir Somerset-Wes, is betrokke by die herstel van die middedorp dáár: “Alle rolspelers het in 2008 vergader om te besin oor die gesamentlike visie vir die middedorp, om haakplekke soos taxi-staanplekke en sekuriteit te identifiseer en toerisme te bevorder. Met ‘n gesamentlike ontwerp in gedagte, kán ‘n nuwe, mooier sakekern in die historiese deel gevorm word – moet nooit moed opgee nie!”