Steelband, filharmoniese orkes speel saam by Solo Studios
Johan Viljoen
Op ‘n Saterdagaand aan die “verkeerde” kant van Voortrekkerweg speel ‘n fantastiese uitvoering af.
In die aanloop tot die jaarlikse Riebeekvallei Solo Studios-kunsnaweek in Augustus klim ons in ‘n bus met van die Riebeekvallei se jong musikante. Hulle is maar stil.
Bestemming Hugo Lambrechts in Parow.
Vanaand speel dié musikante as die Steelband van Riebeek-Kasteel in die foyer terwyl konsertgangers aankom vir die hoofdis.
Daar is vooraf ‘n paar tegniese uitdagings met elekrisiteit wat hierdie wonderlike musieksentrum by tye in donkerte hul, maar dit bring niemand – ook nie die Wynland Filharmoniese orkes wat ‘n klanktoets doen – van stryk nie.
Die Steelband se klanke vul elke hoekie van die voorportaal voor die ouditorium se deure oopgaan. Gaste geniet dié ontvangs en gee telkens applous.
Later is dit tyd vir die hoofmaal: Die Wynland Filharmoniese orkes se Herfskonsert Windroos saam met die stemme van Vivox Voices.
Musiek gekomponeer en verwerk deur komponis Kristi Boonzaaier.
Reghardt Kuhn is die orkesleier en dirigent.
Die Vivox Voices-kamerkoor se stigter en leier is Maria Viviers
Dit is die tweede en laaste van die twee Herfskonserte (Windroos). Vrydagaand was hulle in die Endler op Stellenbosch.
Die gehoor word bederf met uitstekende uitvoerings van die oorspronklike werke van Boonzaaier – Die Windroos Overture, Weskuswind en Geslote Hek. Dit is toonsettings van Afrikaanse gedigte met eenderse titels.
Die aand sluit ook verwerkings deur Boozaaier in, asook die bestaande werk Song of the Universal deur die Norweegse komponis Ola Gjeilo.
Toe ons die pad terug aanpak is die jong musikante se stemme, asof net ‘n bietjie geïnspireer deur die koorsang, sommer ook los en vul die bus met sang op pad terug na die Riebeekvallei, wat hulle huis noem.
Gemeet aan dié konsertaand in die Hugo Lambrechts-sentrum, gaan die spesiale Wynland Filharmoniese Orkes se konsert in die NG Kerk op Riebeek-Kasteel gewis een van die hoogtepunte van die 2023 Solo Studios-naweek wees.
Musiek vir dié konsert word ook deur Boonzaaier gekomponeer met een spesiale stuk waar die einste Steelband daar binne-in die NG Kerk op Riebeek-Kasteel saam met die Wynland Filharmoniese Orkes sal optree.
Dit beloof om ‘n baie besondere ervaring te wees.
Die konsert is Sondag 20 Augustus.
Besoek www.solostudios.co.za vir meer inligting en kaartjies.