Lillies-Spairs-stryd een om dop te hou
Met die tweede ronde van Boland Rugby se Groot Uitdaagliga dié naweek, is die kragmeting tussen Abbotsdale (tuis) en Never Despair seker die stryd om dop te hou in die Swartlandliga.
Die Lillies wat die eerste ronde bo-aan die punteleer afgesluit het, het verlede Saterdag onverwags vasgeval toe hulle gepoog het om die Porterville-spook van verlede jaar te gaan begrawe.

Porterville het ander planne gehad en die besoekers van Abbotsdale hul voorlopersposisie laat verloor. Die telling was 26-17 en slegs die tweede keer wat Abbotsdale tot dusver vanjaar vasgeval het.
Môre pak die Lillies (nou 2de op die punteleer) vir Spairs (3de) en die besoekers sal alles in die stryd werp om een plek op te skuif. Laasgenoemde het verlede Saterdag in hul tuiswedstryd met Saron afgereken (34-25).

Wesbank, tans die ligavoorlopers, ontvang op hul beurt môre besoek van Villagers Wittewater wat nog nie vanjaar behoorlik op dreef kon kom nie. Hulle kon nog nie ‘n sege behaal nie en beklee die laaste posisie op die punteleer. Die tuisspan behoort veels te veel skietgoed te hê en sal na alle waarskynlikheid hul eerste posisie verstewig.
Op Darling sal die tuisspan (tans 5de) die besoekers van Porterville nie kan onderskat nie. Al is laasgenoemde agtste op die punteleer, het hul selfvertroue ‘n groot hupstoot gekry met hul verrassende sege verlede week oor die sterk span van Abbotsdale. Die Melkboere behoort egter op hul tuisveld meer as genoeg skietgoed te hê om ‘n sege te beklink.

Moorreesburg lê tans vierde en behoort maklik met hul besoekers uit Riebeek-Kasteel af te reken. Riebeek United (9de) kon tot dusver net een wedstryd wen en Samoa sal hoop om met ‘n sege op die Rosenhof-sportgronde hul kanse om op die punteleer te klim, te verstewig.
Vir die ander Swartland-ligawedstryd reis Good Hopes (6de) van Riebeek-Wes na Saron, wat tans die 7de plek beklee. Beide spanne het verlede week vasgeval (Good Hopes teen Moorreesburg en Saron teen Never Despair) en sal sake wil omkeer om weer op die voorvoet te kom.

– * In die Weskusafdeling lê die twee Swartlandse spanne, Koringberg en Piketberg, onderskeidelik 10de en 9de.
Koringberg speel dié naweek weg teen St Helenabaai en Piketberg ontvang besoek van Velddrif.