Unlocking the (Eskom) Truth, sê Klipkind
Met die jaarlikse Riebeekvallei Solo Studios om die draai, is studiokunstenaars soos Klipkind (Andries Dirks) kliphard aan die woel met hul kunswerke vir dié jaarlikse gebeurtenis op die kunskalender.
Druk en uitdagings is ook ‘n werklikheid en met beurtkrag voel ‘n beeldhouer wat sy kleistukke moet bak, dit aan eie bas – veral as die stukke twee maal vir 16 ure op ‘n slag ge“fire” moet word.
Dirks, ‘n boorling van die vallei, weet wat dit is om skade te ly as die oond onbeplan sonder elektristeit raak. Dan bars jou werk onherstelbaar.
In kommentaar hierop en die opspraakwekkende onderhoud van André de Ruiter, het Klipkind ‘n spesiale werk – Unlocking the Truth – gemaak. ‘n “Khoi-borsbeeld sonder arms”, verduidelik hy, “omdat baie van ons Khoimense ook na die interview gekyk het. En dit is op ons gedagtes ook. Maar ons is weerloos. Ons kan nie help nie.”
Ook op die werk uitgebeeld is die “trokke met steenkool, die biljoene wat maandeliks weg raak, ‘n paal met koperdraad, ‘n hand met lang vingers, en die koppie waarin hulle De Ruyter probeer vergiftig het. Met die ketting wil ek net sê hulle wou hom stil gehou het.”
Dirks het as ‘n klein alleenkind op ‘n plaas naby die Bergrivier by sy grootouers grootgeword en vir hom uit klei lewensgrootte “vrinne” gebou met wie hy kon “speel”.
“Die hartseer het altyd gekom as dit reën. Dan collapse my vrinne. Maar dan is die kans darem daar om nuwe vrinne te maak.”
Met elke beeld het hy vaardiger geword.
Toe hy later op Gouda skool toe is, het die skoolmaats hom gespot en die Klipkind genoem omdat hy meer “Boesman gelyk het as al die ander kinders”. Dit het hom laat stokkies draai en weer het hy hom met klei besig gehou. Al was dié bynaam vir hom sleg, gebruik hy dit vandag as kunstenaar.
Daar het ‘n haas gehou naby sy speelplek en hy kon die haas nooit vang nie. Toe maak hy maar sy eerste kleihaas. En dit was die inspirasie vir die talle kleihase waarvoor hy intussen bekend geword het.
Van hulle het nou al hul plek gevind in die buiteland – Parys, Wallis en elders.
“Ek werk nie met gietvorms nie. Ek wil juis hê elke haas moet anders wees. Uniek.” In sy klei meng die Klipkind ook ‘n “papierpulp wat die eindproduk sterkter maak.”
Toe dit duidelik word dat Eskom se beskikbaarheid van elektrisiteit vir die oond waarin hy sy werke bak, nie betroubaar is nie, het Dirks vir hom ‘n kleioond met inspeksiegate gebou om die baie hoë temperatuur (tussen 1000 en 1200 ºC) te reguleer. Ongelukkig het die onlangse baie reën, dié kleioond erg beskadig.
Al het hy klein-klein al kleiwerke geskep met die “wille klei” wat hy self uitgrawe en waarmee hy graag werk en ‘n liefde voor het, het hy eers veel later geleer dit moet gebak word.
Sy pad het draaie – selfs deur gevangenisse – geloop en later met keramiekkunstenaars in die Riebeekvallei gekruis.
Dirks is van die eerste Solo Studios in 2016 betrokke as kunstenaar.
Deesdae is Klipkind se ateljee (wat hy met die hulp van ‘n weldoener bedryf) onder in Short Street op Riebeek-Kasteel, ook die plek waar hy klasse aanbied.
Hy het ook ‘n klompie jong kinders as deel van ‘n gemeenskapsprojek onder sy vlerk geneem om kleiwerke te maak vir uitstalling tydens vanjaar se Solo Studios by Gallery 7 on Plein.
Dié pa van vier gesels op die vooraand van sy 50ste verjaarsdag oor sy gunstelingwerk. Hy verkies om die beelde van mense te skep. Die meeste van hulle, sê hy, besef hy eers as hy klaar is dat hulle trek op iemand wat hy onthou. Hy maak wel heelwat hase omdat dit die gewilde werke is wat brood op die tafel sit.
“En eendag,” sê Klipkind, sal hy “so graag van sy werke in brons wil begin giet en verkoop. Maar dit is baie duur.”
As hy Unlocking the Truth terug plaas op die rak, skerts Dirks dat hy “hoop die koperdraad daarop word nie gesteel nie”.
Kaartjies en meer inligting oor Solo Studios 2023 is beskikbaar op die webwerf https://solostudios.co.za/.