Jong Swartlander in SA o.18-sewesspan
.
Kleinseun van Jan Boland Coetzee
Die jong Samuel Badenhorst van Malmesbury is gekies vir die o.18 sewesrugbygroep om Suid-Afrika te verteenwoordig op die Statebond Jeugspele wat aanstaande maand in Trinidad en Tobago plaasvind.
Hy is in graad 11 en was op laerskool onder andere in die Christelike Privaatskool Malmesbury.
Samuel se pa, Adi (bekend as wynmaker en mede-eienaar van Kalmoesfontein in die Paardeberg), was op sy dag hoofseun en eerstespan-rugbykaptein van die Hoër Seunskool Wynberg.
Hy het ‘n paar jaar gelede al vertel Samuel wil “wanneer hy groot is, graag in Frankryk rugby speel en in die afseisoen wyn maak”.
Hy sê Samuel (tans buitesenter van Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch) is baie opgewonde oor sy insluiting in die SA-groep.
Stellenbosch is ook die dorp waar Samuel se ma, Cornelia, grootgeword het as die dogter van die bekende Springbokflank en wynlegende Jan Boland Coetzee.
Sy vertel haar ma, Annette, was in beide Laerskool Swartland en Hoërskool Swartland. Haar ouma en oupa, Hennie en Joey Louw, het op die plaas Klein Amoskuil geboer.
Die Statebond Jeugspele vind van 4 tot 11 Augustus plaas. Die Suid-Afrikaanse groep wat in sewe sportkodes sal meeding, vertrek op 28 Julie na Trinidad en Tobago.
Coetzee (78), ‘n boorling van Porterville wat sy kinderjare op Lambertsbaai deurgebring het, se spore loop ook deur die Swartland waar hy in 1962 die Hoërskool Swartland se eerstespan-rugbykaptein was.
Hy het van 1974 tot 1976 in ses toetse vir Suid-Afrika gespeel.