EntertainmentFEATUREDGeneral

Lees, lees – Daniël Hugo se raad aan digters

Onder die kuns wat gedy aan die voet van die Kasteelberg in die Swartland, tel poësie wat maandeliks op ‘n unieke verhoog formeel informeel in gesproke vorm lug kry aan die hand van plaaslike en besoekende digters.
Elke laaste Sondag van die maand kom woordkunsliefhebbers byeen in die proe-emporium in Short Street, Riebeek-Kasteel.
Gister het die digters saam met dr. Daniël Hugo hul werk voorgehou.

Dié bekende radiostem, deesdae voltydse digter en vertaler, is ‘n gebore Stellenbosser, het in Namibië grootgeword en woon tans nog op Prins Albert.
Hy het ‘n paar van die 94 gedigte uit Openbare Domein, een van sy jongste van 16 digbundels, voorgelees asook een uit die jongste bundel Klinkklaar.
Hugo het ook al meer as vyftig werke uit Nederlands in Afrikaans vertaal.

Twee plaaslike digters, Rudolph Willemse (links) en Donker Jonker (regs), saam met dr. Daniël Hugo

Die ander deelnemers wat hul eie of ander se werk voorgelees het, was Bas van Kampen, Warren Samson, Delana Fourie, Nicolene Smit, Caren Kearley, Bradley Arendse, Anri Botha, Donker Jonker, Tamzin Lovell-Miller en Kobus Moolman.
Gepols oor wenke vir digters, het Hugo die belangrikheid van lees beklemtoon.
’n “Mens kan nooit genoeg lees nie.”
“Die groot stryd van elke digter is om sy eie stem te vind.

“Jy kan alleen jou eie stem vind as jy weet wat voor jou geskryf is en wat in jou eie tyd geskryf is.
“Dit is ‘n normale proses dat jy een digter sal begin aanhang as ‘n leermeester en begin skryf in daardie trant.”
“Mens het ‘n leermeester nodig. Dan moet jy op ‘n stadium besef ek het geleer wat ek kan by die grootmeester. Nou moet ek soos myself begin klink.
“Baie digters sê ek gaan niemand lees nie, want ek wil nie soos iemand anders klink nie.

“Hulle draai die proses om, maar dit is die verkeerde benadering. Jy sal nooit weet hoe om soos jouself te klink as jy nie weet hoe almal voor jou en ná jou geklink het nie.”
Omdat die Afrikaanse poësie so ‘n kort geskiedenis het, meen Hugo, is dit wel moontlik om die Afrikaanse digkuns te lees van begin tot einde.
Hy beveel ook aan dat digters hul werk toets op poësiebyeenkomste asook skryfskole vir eerlike kritiek. Digters moet ook kritiek kan hanteer, sê hy.

Leave a Reply

error: Content is protected !!