Tekstieltekstuur goue draad deur Blake se werk
.
Bring ook Spier- en Keiskamma-kuns na Solo Studios
Talle mense, ook besoekers aan vorige Solo Studios-naweke, assosieer Tamlin Blake met haar reuse-kunswerk Tied by Time wat tans op uitstalling is in Dallas, Texas by die African American Museum.
En borduurwerk en weefkuns loop inderdaad soos ‘n goue draad deur baie van haar onlangse werk, maar dié kunstenaar wat al 17 jaar in die Riebeekvallei woon, is ook by talle ander projekte betrokke. Naas haar deelname as ateljeekunstenaar aan vanjaar se Solo Studios van 18 tot 20 Augustus, bring Blake vanjaar ook kunstenaars van die Keiskamma-kunsprojek en die Spier-kunstrust se Creative Block-projek na die vallei.
Dié hoofkurator van die Spier-kunstrust lei die Creative Block-projek waar kunstenaars die geleentheid kry om hul kuns en loopbane met kundige hulp te ontwikkel.
Sy is ook reeds vir jare betrokke by die Keiskamma-kunsprojek wat nie net met borduur- en weefwerk soveel raaklyne met Blake se werk deel nie, maar nog ‘n ondersteuning- en ontwikkelingsprojek is.
Twee kunstenaars van die Keiskamma-projek sal vanjaar in Blake se ateljee sit en werk en oor hul kuns met die naweekgangers gesels. Dit sal aan hulle wyer blootstelling gee en “ek dink as kunstenaars in die vallei het ons die geleentheid om te deel – ook ons ruimtes.”
Blake het ‘n meestersgraad in beeldende kuns aan die Stellenbosch Universiteit behaal en naas etlike solo-uitstallings ook reeds aan verskeie groepuitstallings deelgeneem. Haar werk is in talle korporatiewe en openbare versamelings opgeneem.
Die laaste klompie jare, nadat sy voorheen onder meer baanbrekerswerk met kralewerk gedoen het, het sy tapisserie gedoen – geweef uit herwinde, gekleurde en gespinde koerantpapier.
Die belangrikheid van erfstukke oor kulture heen was onder die temas van haar werk, met die industriële rewolusies die tema van Tied by Time.
Oor haar jongste werk wat vanjaar uitgestal word, skerts Blake dat dit almal, selfs haarself, verwar.
“Nee, nie regtig nie.”
Sy verduidelik dat die groot tapiserieë baie tyd en ook die indiensneming van ‘n span mense verg. Verskeie praktiese werklikhede waaronder Covid-19 het daartoe gelei dat sy al haar werknemers verloor het. Nou werk sy weer aan kleiner, makliker hanteerbare projekte.
Blake sê sy sal wel in die toekoms weer groot projekte wil aanpak, maar dan onder bepaalde voorwaardes soos dat die administrawe sy deur iemand anders hanteer word.
“Maar intussen speel ek met soveel pret.”
Die goue draad van weef- of borduurwerk is steeds baie kenmerkend in haar nuwe skilderye.
“Ek wou altyd terugkeer na skilderwerk en wou ‘n tegniek vind wat op ‘n manier gesels met die weefwerk – ‘n tegniek wat lyk soos stikwerk.
“Sodat dit skakel met my weefwerk en nie so ver verwyderd is nie.”
Die nuwe werk genaamd Burning the books raak aan die tema van sensuur en sogenaamde “cancel culture”.
“Dit wat ons vandag ervaar. Wie mag praat en wie nie? Wie het die reg op opinie en wie nie?”
Sy vertel dit is onder meer geïnspirereer deur die groot tapisserie Burning of the Pagan Books wat sy in Londen op uitstalling gesien het. Dié werk is rondom 1535 in België in opdrag van koning Henry VIII geweef as een van nege wat die lewe van Sint Paulus uitbeeld. Dit is in 2018 herontdek.
Blake het al as kind ‘n bietjie weefwerk gedoen.
“My brein werk soort van in pieksels. Ek is ‘n maker. Ek sit dinge bymekaar. My skildertegniek is ook ‘n maakproses. Nie ‘n lae-proses en ‘n groeiproses nie.
“Omdat ek ‘n maker is, wil ek steeds die stukke bymekaar sit. Dit is waarom die verf in hierdie formaat vir my goed werk. Sodat ek kan aanhou byvoeg. Ek hoef nie enigiets in lae te doen nie. Dit sal my mal maak. Want ek sal nie weet wanneer die werk ooit klaar is nie.”
Blake sê daar sal wel nuwe tapisserieë waarmee sy begin het, ook op uitstalling wees, “want ek dink mense hou daarvan.”
Oor haar besluit om twee kunstenaars van Keiskamma Kuns vanjaar ook te laat uitstal, sê sy: “Vir my was een van die redes dat Solo Studios nie stagneer nie – nuwe komponente.”
Sy het verlede jaar saam met Robyn Pretorius digitale kuns as element ingebring.
“Altyd iets waar mense net so ‘n bietjie hul tande in kan lê.”
Vanjaar is dit amper “closer to home” met die ooreenkoms tussen haar werk en dié van Keiskamma.
Keiskamma Kuns is ‘n samewerkingsprojek met vyf kunstenaars van elders wat nou saamwerk met die deelnemende kunstenaars van Hamburg in die Oos-Kaap om hul te ondersteun en help met ontwikkeling – ook van konsepte vir hul kuns. Dit lei tot uiteenlopende kunswerke met verskillende kleurtemas wat dan daar gestalte kry.
Die projek wat in 2000 gestig is, produseer groot tekstielkunswerke wat bydra tot die argivering van die landelike Oos-Kaap se kollektiewe geheue en die bewaring van mondelinge geskiedenis.
Die Keiskamma Kunsprojek verskaf ook inkomste en ander vorme van noodsaaklike ondersteuning vir baie gesinne.
Oor die Spier-kunstrust en die Creative Block-projek, sê Blake, sy is as hoofkurator verantwoordelik om alle kuns vir die Spier-, Nando’s- en Hollard-kunsversamelings te keur.
The Creative Block is in 2004 gestig en bied aan kunstenaars ‘n mentor om hul te help ontwikkel. Dit dien ook as inspirasie wanneer kunstenaars sogenaamde “Creative Block” ervaar en bied die geleentheid om hul kreatiwiteit op artistieke gebied uit te brei asook wyer blootstelling aan die kunswêreld.
Hulle kan elke maand werk met enige medium op vaste groottes indien en die werk wat gekeur word, word dan aangekoop teen voorgeskrewe tariewe vir inkomste om hul basiese uitgawes te dek en stel hulle in staat om as voltydse kunstenaars voort te gaan.
Dit is ook ‘n bekostigbare manier vir kunsliefhebbers om hul eie versameling te begin.
The Creative Block verteenwoordig meer as 260 professionele kunstenaars van regoor Suid-Afrika.
Naas die uitstalling van verskeie deelnemende kunstenaars by Solo Studios, sal twee van dié kunstenaars, Boyce Magandela en Emma Aspeling, self daar wees om oor hul kuns te gesels.