CommunityFEATUREDGeneral

‘Plaaslik; loop liggies oor die land’

Johan Viljoen

Op ‘n vrouedag wat eintlik nie ‘n hoofletter moet hê nie en eintlik, soos ons almal weet, nie eers as ‘n enkele dag moet bestaan nie, wil ek wel hulde bring aan die omgeevroue in elkeen van ons lewens.
Omgeevroue wat is en ook hulle wat was.
Omgeevroue wat, ten spyte van als, elke dag van die jaar omgee en omgee en omgee, nie net vir hul gesinne nie, maar ook vir dié om hulle.
Ondersteun waar hul kan.

Dit bring my by ondersteun en plaaslik ondersteun.
Een van die heel beste voorbeelde van werklik plaaslik ondersteun en veral kleiner besighede se hand te sterk, is by ‘n restaurant op die Weskuspad.
‘n Restaurant met unieke geure en ‘n ander aanslag as die meeste ander wat ons so gereeld besoek.
‘n Restaurant wat ‘n storie vertel – ook van omgee en mense help. Eintlik vir hul ‘n toekoms help gee.
As jy !Khwa ttu nog nie besoek het nie, mis jy uit op ‘n unieke ervaring.

Swartland Toerisme se beamptes het !Khwa ttu besoek

‘n Ervaring wat vertel van erfenis, nie net van gister nie, maar ook hoe ons elke dag nuwe erfenis skep.
Unieke geure met veldkos en produkte wat op en naby die plaas gekweek en geproduseer word.

Crunchy Amasi Chicken, Slow Braised Angus Beef Flatrib, Citrus & Gin cured Yellowtail, Veld Salad, Crispy Layered Potato, Askoek with Kaiings & Sandveld Honey Butter en Mosbolletjie French Toast is maar ‘n paar disse op die bistro-styl spyskaart.
Vroue in San-gemeenskappe is dikwels die voedselversamelaars. Hulle diep botaniese kennis beteken dat hulle presies weet watter plante om te oes vir voeding en medisyne.
Verwag talle geure in seisoen as jy !Khwa ttu besoek. Soos keiappel, bloublomsalie, suurvy, veldkool en slangbessie.
Maar voor jy daar kom moet jy eers iets bestel om te drink en dit is waar die boodskap reeds duidelik deurkom.

Vergeet maar van Coca-Cola en Fanta

“Ons ondersteun nie die grotes nie. Hulle maak genoeg geld.”
So jy kan uitsien na boetiekbier, Darling en Swartland-wyne, Darlington Craft Gin en Voorkamer VSOP Cape Brandy uit die streek en ‘n unieke seleksie koeldrank.
Vergeet maar van Coca-Cola en Fanta. Hier kry jy onder andere Cape Cola, Sparkling Rooibos, geurige gemmerbiere, Tea of Life and Theonista-koeldrank.
My soveelste besoek aan !Khwa ttu – en elke keer die moeite werd – weer en weer.
“Seisoenaal. Plaaslik. Loop liggies oor die land.”– Só sê die San-kultuur.

Leave a Reply

error: Content is protected !!