Darling buit weer grote by Swartland Jongwynskou
‘n Gehoute Shiraz is vanjaar die Swartland se jongwynkampioen.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Jongwynskou is jaarliks een van die beste barometers in die plaaslike wynbedryf en hier kan wynmakers reeds ‘n goeie idee kry van waar hul jongwyne geposisioneer is.

Deelnemers uit al die wynstreke neem in dié kompetisie nie net nasionaal deel nie, maar ook in streekverband waar die streke se wenners eers by geleenthede aangewys word voor die nasionale pryse vanjaar op die 26ste Augustus aangekondig sal word.
Darling Cellars het vanjaar die Swartland se Absa Groot Kampioen-trofee ingepalm toe hul die hoogste punte in die streek behaal het met hul gehoute Shiraz (Klas 74:19).

Die streekkompetisie word deur die Swartland Wyn- & Olyfroete gekoördineer.
Tien kelders uit die Darling en Swartland afgebakende wynareas het vanjaar deelgeneem en met 11 goue, 23 silwer en 21 brons-toekennings weggestap. Daar is 32 klaswenners in die streek aangewys vanuit die goue en silwer toekennings.
Dié wyne het in hul kategorieë in aanmerking gekom vir die onderskeie streekstrofeë waarna die wyne met goue toekennings om die Groot Kampioen-trofee meegeding het.

Pieter-Niel Rossouw, voorsitter van die Swartland Jongwynskou, sê die 2023-oes het beslis sy uitdagings gehad. “Om met die natuur te werk, hou jou nederig. Die aanloop na die 2023-oes was baie goed. ‘n Koue winter met goeie reënneerslae. Wingerde het die hele groeiseisoen baie mooi vertoon. Die min reënval in September het egter sy tol geëis en alhoewel die druiwe op die oog af daar was, was daar nie gewig in die druiwe nie.
“Vroeë kultivars soos Sauvignon Blanc, Chenin Blanc, Shiraz en Pinotage het werklik baie mooi wyne gemaak. Laat reënval in die parsseisoen het egter uitdagings gebring vir Cabernet Sauvignon en Merlot. Die wyne is baie meer elegant en minder uitgesproke. Die 2023-oes was helaas baie kleiner as verwag.”

(voorste ry): Pieter-Niel Rossouw (Darling Cellars), Selma Willemse (AA Badenhorst Family Wines), Bertrum Titus (Darling Cellars), Sheree Nothnagel (Riebeek Valley Wine Co), Maggie Immelman (Darling Cellars), Anthony Meduna (Darling Cellars), Stephan Basson (Babylon’s Peak) en Dewald Huisamen (Pulpit Rock).
Die Jongwynskou is ‘n tegniese kompetisie en ‘n platform wat aan wingerdboukundiges en wynmakers die geleentheid bied om hul wyne van die nuutste oesjaar teen dié van hul eweknieë te meet, en ook die gehalte van nuwe wyne en wynstyle op ‘n groter platform te toets.
Die resultate van nuwe tegnieke in die wingerd sowel as in die kelder word so gemeet. Dit bied ook die geleentheid vir die wynmakers om nuwe style te ontwikkel en sodoende hul eie bottelwyne of grootmaatwyne aan kliënte te verbeter.

“Ek glo die relevansie van die Jongwynskou word onderskat omdat dit gesien word as ‘n grootmaatwyn-kompetisie. Die Jongwynskou glo ek is die plek waar baie van Suid-Afrika se beste wyne gebore word. Dit gee ook ‘n goeie oorsig van wat in die betrokke streek gedurende die seisoen gebeur het,” voeg Rossouw by.
Die gewildheid van Die Swartland en Darling wingerdareas neem jaarliks toe onder wynmakers weens die kwaliteit en unieke wyne wat hier geproduseer kan word. Die wyne word direk beïnvloed deur hul unieke terroir en is dit vir wynmakers baie aanloklik om met die kwaliteit van druiwe uit die unieke area te werk.
Die ander kelders wat vanjaar met die Swartland-trofeë weggestap het, was AA Badenhorst Family Wines, Allesverloren, Babylon’s Peak, Pulpit Rock Wines en Riebeek Valley Wine Company.
Meer besonderhede oor die wenners van die Swartland se streektrofeë:
-Santam Landbou Kampioen Ander Rooi Kultivar (ongehoute Mouvèdré - Klas 64:1) - AA Badenhorst Family Wines
-SAIL Kampioen Versterkte Wyn (Cape Vintage -Klas 84:08) – Allesverloren
-CJP Chemicals Kampioen Chenin Blanc (gehoute Chenin Blanc - Klas 9:8) - Babylon’s Peak
-Vinventions Kampioen Sauvignon Blanc (gehoute Sauvignon Blanc - Klas 15:08) - Darling Cellars
-Kotzé Steyn Kampioen Shiraz (gehoute Shiraz - Klas 74:19) - Darling Cellars
-Porex SA Kampioen Merlot (ongehoute Merlot - Klas 63:29) - Darling Cellars
-Séan Nieuwoudt Cinsaut Trofee (ongehoute Cinsaut - Klas 58:04) - Darling Cellars
-Vinochem Trofee vir die 5 Beste inskrywings - Darling Cellars
-ABSA Groot Kampioen (gehoute Shiraz - Klas 74:19) - Darling Cellars
-Malmesbury Toyota Kampioen Droë Wit Versnit (gehoute Chardonnay/ Viognier - Klas 2:31) - Pulpit Rock Wines
-Wine Machinery Kampioen Cabernet Sauvignon (ongehoute Cabernet Sauvignon - Klas 56:2) - Pulpit Rock Wines
-Nexus Kampioen Droë Rooi Versnit (gehoute Shiraz/ Pinotage - Klas 51:40) - Pulpit Rock Wines
-Enartis Kampioen Ander Wit Kultivar (gehoute Viognier - Klas 19:1) - Riebeek Valley Wine Co
-Kobus Basson Pinotage (ongehoute Pinotage - Klas 70:6) - Riebeek Valley Wine Co