Groot toename in besoekers by Solo Studios
Die jaarlikse Solo Studios-naweek wat van Donderdag tot Sondag in die Riebeekvallei aangebied is, het ‘n toename van meer as 20% in kaartjieverkope getoon teenoor dié van verlede jaar.

Projekbestuurder Shawn Hewitt het aan dié courant gesê daar was egter ‘n duidelike tendens dat baie van die kunsverkope dié van goedkoper kunswerke was.
Al was die aantal stukke wat van die hand gesit is meer as ‘n honderd meer as in 2022, was die totale verkoopwaarde laer.
Hy vertel dat een van die gemeenskapsprojekte om kuns van jong en opkomende kunstenaars by Gallery 7 on Plein beskikbaar te stel, groot sukses behaal het en talle stukke van dié kunstenaars van die hand gesit is.

Oor Sondag se Solo Symphony in die NG-gemeente Riebeek-Kasteel se kerkgebou meen Hewitt dit word deur talle as die hoogtepunt van die naweek beskou.
Hy het die Wynland Filharmoniese Orkes en die Riebeek Valley Steelband geloof vir hul verwerkings en uitvoering.
Meer as 300 kaartjies is verkoop vir dié historiese simfoniekonsert in die gebou wat vanjaar 110 jaar oud is. Van die kerkbanke voor in die kerk is tydelik verwyder om die groot orkes te huisves.

Nadat die stigter en orkesleier van die Wynland Filharmoniese Orkes, Reghardt Kühn, aangedui het dat hulle aanstaande jaar sal wil terugkeer, sê Hewitt die kans is goed dat hulle weer die geleentheid gegun sal word om deel van 2024 se program te wees.
Oor die afgelope naweek voeg Hewitt by dat hy baie goeie terugvoer ontvang het oor die atmosfeer wat die naweek geheers het en dat daar beslis ook meer jonger besoekers en kunsstudente by Solo Studios 2023 was as voorheen.