Top-liggaamsbouer wil ander inspireer
Sy het onlangs, ná harde werk en dissipline, nie net ‘n liggaamsboukompetisie gewen nie maar ook erkenning op die hoogste vlak ontvang toe ‘n beroepskaart (pro card) van die UIBFF (United Intercontinental Bodybuilding Fitness Federation) aan haar toegeken is.

Swartlander Ruth Nelson het die Fitness Bikini (tot 1,71)-kompetisie op die Shaye Best Classic gewen. Op dié byeenkoms in Kaapstad het sy ook die derde plek verower in die Masters Bikini -kategorie.
Nelson (46) van Malmesbury vertel sy neem die afgelope vier jaar aktief deel aan liggaamsboukompetisies deel, maar oefen al vir die laaste 23 jaar met gewigte. Sy het dit op sekere tye afgewissel deur marathonne te hardloop en altyd aktief te bly.

“Dis ‘n leefstyl waar jy baie dissiplinne moet toepas en jou eetgewoontes moet baie streng wees.”
Sy gebruik ook ‘n dieetkundige wat al jare op dié sport fokus.
“Sy ken my lyf al redelik goed van oor die jare saam met my werk en weet al wat werk vir my en wat nie.
“Ek doen self my oefenprogramme met kennis wat ek oor die jare opgedoen het en dis absoluut my passie.”

Nelson sê sy wil vorentoe nog verdere afronding en verbeteringe doen vir aanstaande jaar se kompetisieseisoen en is ook genooi om dan aan die Wereldnkampioenskappe te gaan deelneem.

“Intussen wil ek graag ‘n bietjie fokus om ander vroue ook te inspireer en te motiveer om hulle drome en passies na te jaag. ‘n Mens moet nooit dat ouderdom jou terughou om jou drome en passies na te streef nie en my sukses is ‘n bewys daarvan dat enigiets moontlik is met harde werk en deursettingsvermoë.”