EntertainmentLatest

‘Skollie’ van Riebeek-Kasteel sterf tuis

Die bekende akteur George Ballot (77) is op Riebeek-Kasteel, waar hy die laaste meer as twee dekades gewoon het, oorlede.
Tot vandag by baie steeds bekend vir sy rol as Skollie in die gewilde Vyfster-TV-reeks in die 80’s, het Ballot hom vroeg in die 2000’s in die Riebeekvallei gevestig nadat hy ‘n kunsgallery in Kaapstad bedryf het.

Hy het sedertdien grootliks uit die openbare oog verdwyn en ‘n private stil bestaan gevoer. Ballot is meesal gesien as hy op Malmesbury gaan inkopies doen het of met sy fiets en sy hond aan ‘n leiband by die plaaslike winkel ‘n paar honderd meter van sy huis.
Hy het vroeër verskeie rolle vertolk nadat hy aan die Universiteit van Pretoria studeer en in 1968 by die destydse Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste aangesluit het.
Naas sy rol as die misdadiger Skollie in Vyfster (twee reekse), asook die films Skollie en Vyfster: die slot, was hy aanvanklik in heelparty teaterstukke en later flieks te sien.

Ballot op sy fiets en hond aan ‘n leiband was ‘n bekende prentjie op Riebeek-Kasteel. Hier is hulle in 2014 in Pleinstraat op pad na die winkel.

Onder sy verhoogoptredes tel Siener in die Suburbs, Die Seemeeu, Mattewis en Meraai, Die Rebellie van Lafras Verwey, Toiings, ‘n Seder val in Waterkloof, en En Dit Was Môre (1985).
Hy het ook in TV-reekse soos TJ7, Arsenaal en Skoppensboer gespeel en verskeie flieks. Dit sluit Blink Stefaans, Vergeet my Nie en Tant Ralie se Losieshuis, Styx en Orkney Snork Nie! 2 in.
‘n Jarelange vriendin en buurvrou, kunstenaar Louisa Gerryts, sê toe Ballot nie Maandag op haar boodskappe reageer nie, het sy onraad vermoed en toe die polisie gevra om ondersoek in te stel by sy huis.

Daar het hulle hom in sy bed aangetref.
Gerryts vertel hy het die laaste jare gesukkel met bloedsomloop. Al is die oorsaak van sy dood nog onbekend, was dit moontlik ‘n hartaanval of aneurisme. Hy is vermoedelik Saterdag oorlede.
Sy sê Ballot het in 2000 op Riebeek-Kasteel verlief geraak toe hulle aan ‘n bankadvertensie gewerk het wat in Royalstraat geskiet is.
Hy het toe eiendom gekoop en die laaste 22 jaar was hul bure.

Ballot in 2020 in Pleinstraat, Riebeek-Kasteel op pad na die winkel.

“Hy het vroeër altyd by die laerskool gaan help met drama as hulle opvoerings gedoen het.”
“George was mos maar ‘n bietjie hardkoppig. Maar ons het mekaar verstaan. Ek dink hy was ook maar ‘n ‘hoarder’. Ek was in die 22 jaar nooit in sy huis nie.
“Hy het vroeër vanjaar ‘n gedeelte van sy erf afverkoop en het gesê hy wil net die oorblywende gedeelte mooi maak, ook verkoop en dan na Malmesbury toe trek.”
Ballot was voorheen getroud met Nerine. Sy woon in Kaapstad.

Sy broer, dr. Muller Ballot (85), is emeritus professor in kunsgeskiedenis en afgetrede direkteur van die universiteitsmuseum van Universiteit Stellenbosch. Hy en sy vrou, Titia, woon op Hermanus.
Hy vertel George (gebore 3 September 1946) was die jongste van drie kinders. Hy was in Hoërskool Heidelberg. Hulle het in Johannesburg grootgeword en het ook ‘n suster Petro Pelser (89) wat in Middelburg, Mpumalanga woon.

Leave a Reply

error: Content is protected !!