Agri/BusinessGeneral

Robertson Feesmark vier 20 jaar

Promosie

Die Feesmark van Robertson-Oos is ‘n hoogtepunt elke jaar vanaf middel Oktober tot vroeg in November.
Vanjaar is die mark 20 jaar oud en van 20 Oktober tot 4 November is weer feesmarktyd.
Die organiseerders vertel van die beginjare en hoe daar nou elke jaar wonderlike kunstenaars is wat uitstal en soms ver moet reis na Robertson.

“Die mark het homself bewys as een van die mooiste markte in die Wes-Kaap. Besoekers kom van oral. Die gemeente van Robertson-Oos geniet dit om by die Feesmark bymekaar te kom, saam te werk deur dienstye te verrig, inkopies te doen of net heerlik saam te kuier in die restaurant wat keurige maaltye en lekker drinkgoed bedien.”
Die idee om ‘n kersmark te begin het in 2003 ontstaan toe die twee orreliste van die Robertson Oos-gemeente, Stefné Marais en Marlene Zietsman van die suksesvolle kunshandwerkmark, “Kamers vol geskenke” gehoor het.

Hulle het van die konsep gehou as ‘n manier om fondse in te samel vir ‘n projek om die kerkorrel te laat uitbou vir ‘n beter klank vir die kerkgebou wat jare gelede vergroot is om die groeiende gemeente te huisves.
Daar is aan die werk gespring en onder die naam “Feesmark” is begin om deur middel van ‘n keurinsproses, kunstenaars van mooi handewerk te werf.
“Hulp van die hooforganiseerder van die Worcester-Oosgemeente se kersmark was van onskatbare waarde. Om nie datums vir die mark te laat oorvleuel met ander gevestigde markte nie, is die Feesmark beplan vir Oktober/November en het die Robertson-Oosgemeente weggespring met talle vrywilligers se hulp en ondersteuning.
“Met dié groot projek het Stefné en Marlene ‘n persoon benodig wat die finansiële deel van die mark kon hanteer. ‘n Jong Helaine Louwrens, mamma van 3 klein kindertjies, het haar dienste aangebied. En so het haar reis saam met die Feesmark ‘n baie lang een geraak en is sy na 20 jaar steeds in hierdie “amp”, maar met veel meer hooi op haar vurk as aan die begin. Sy is reeds vir ongeveer 16 jaar die hooforganiseerder en sy is die hart van die Feesmark.

“Flukse dames met kreatiewe denke het Helaine bygestaan deur die jare en die mark het toenemend van jaar tot jaar gegroei onder Helaine en haar span. Daar word jaarlikse ongeveer 110 kunstenaars van skeppende handewerk of uitsonderlike artikels gekeur om by die mark te kom uitstal.
“Hulle staan ‘n kommissie af aan die kerk en dit bring vir die 14 dae wat die mark duur vir die meeste van hulle ‘n stewige inkomste asook vir die kerk, wat binne die eerste 3 jaar die orrelskuld kon delg.
“Die Feesmark se bydrae tot die kerk se fondse is standhoudend, danksy harde werk van ‘n klein groepie toegewyde dames.”
“Mag daar nog baie geseënde jare voorlê vir hierdie mark, wat nie net ‘n fees van geskenke vir kopers bied nie, maar ook met al die mooigoed ‘kos vir die siel’ bied en kos op die tafel sit vir die talle persone wat kreatief dink en doen.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!