LatestNews

Swartland groei met 30,4%, sê sensus

Die Swartland se inwonertal het die afgelope 12 jaar met 30,4% toegeneem. Volgens die jongste syfers van die nasionale 2022-sensus wat pas bekend gemaak is, was daar met die opname 148 331 inwoners in dié munisipale streek teenoor die 113 762 in 2011.

Die bevolkingsgroei van die vorige sensus in 2001 tot in 2011 was 57,75% van 72 115 tot 113 762.
Soos die algemene tendens in die res van die land, is die bevolking in die Swartland ook ouer met ‘n hoër vlak van skoolbywoning en hoër onderwys.
Die aantal bejaardes bo 65 jaar het sedert 2011 van 5,9% van die totale inwonertal tot 7,2% gestyg.

Die jong kinders van 0 tot 14 jaar het van 25% tot 23,4% gedaal.
Die gedeelte van die Swartland se inwoners ouer as 20 jaar met geen skoolopvoeding het gedaal van 6% tot 3,6%. Dié syfer was op 10% in 2001.
Inwoners ouer as 20 met hoër onderwys-opleiding het gestyg van 7,4% in 2001 en 9,2% in 2011 tot 11% in 2022.
Verder het die grootte van huishoudings gedaal van 4,1 mense per huishouding in 2001 en 3,9 in 2011 tot 3,3 in 2022.
Die aantal huishoudings in die Swartland was volgens 2022 se sensus 44 856 teenoor die 29 324 in 2011 en 17 403 in 2001.

Die persentasie van huishoudings in formele geboue/strukture het weer gedaal van 90,9% tot 89,5%. Dié syfer was op 93,4% in 2001. Dit beteken van die 44 856 huishoudings woon sowat 4 082 nie in formele strukture nie.
Voorts het die toegang tot basiese dienste gestyg.
Diegene met spoeltoilette wat aan ‘n rioolstelsel gekoppel is, het volgens die jongste syfer verder gestyg. Dit was in 2001 op 85%, in 2011 op 90,8% en in die jongste opname op 96,8%.

Die aantal inwoners met toegang tot lopende water binne-in hul wonings het met 12,4% toegeneem van 80,6% tot 90,6%.
Ook die gedeelte van die bevolking met toegang tot weeklikse vullisverwydering het gegroei. Dit was in 2022 op 82,8% teenoor die 76,1% in 2011 en 71,4% in 2001.
In terme van bevolkingsgroepe was daar volgens die syfers van 2022 nie groot verskille teenoor 2011 nie.
Sensus 2022 dui die bevolkingsgroepe in die Swartland aan as 64,1% Kleurling (64,8% in 2011 en 72,3% in 2001), 18,3% Swart Afrikaan (18,3% in 2011 en 10,4% in 2001) en 15,7% Wit (15,6% in 2011 en 16,9% in 2001).

Die Weskus se grootste inwonerontploffing is die 2022-syfer van Saldanhabaai. Dit dui op ‘n reuse-toename van 99 193 in 2011 tot 154 635 in 2022 – ‘n toename van 55,9%. Die syfer van 2001 was 70 261 inwoners. (Die nuwe Saldanhabaai-syfer kan wel, soos deur plaaslike kenners gemeen, eintlik dui op die regstelling op die 2011-syfer wat baie gereken het destyds foutief en ver te laag was.)
In die Bergrivier het die bevolking volgens die jongste syfer van 61 897 in 2011 gestyg tot 70 276 in 2022. Die sensus van 2001 het 46 538 vir dié munisipale gebied aangeteken.

In Drakenstein, een van die ander naburige munsipale areas (in die Wynland-distrik), is 276 800 inwoners in die 2022 aangeteken teenoor die 251 262 van 2011.
Die Stad Kaapstad het volgens die syfers tydens die opname 4 770 313 van die Wes-Kaap se 7 430 487 inwoners gehad.

Die provinsie se syfer was op 5 822 734 in 2011.
Die nasionale bevolking is nou in 2022 aangeteken as 62 miljoen mense teenoor die 51,7 miljoen in 2011.

Leave a Reply

error: Content is protected !!