EntertainmentLatest

Swartlanders blink op Woordfees 23

Al het die kaartjieverkope nog nie dié van vóór die Covid-pandemie geëwenaar nie, was daar vanjaar beslis ‘n toename in besoekers by die Woordfees op Stellenbosch wat die naweek ten einde geloop het.
Soos die afgelope klompiejare was die Swartland ook goed verteenwoordig in van die top-produksies by Woordfees 2023.
Een van Malmesbury se gewilde boorling-ambassadeurs Dean-John Smith (29), het nie net weer beïndruk in die onderskeie rolle wat hy vertolk het nie, maar veral sy veelsydigheid het opnuut uitgestaan.

By baie bekend vir sy rol as Wade in die sepie Suidooster, het Smith die laaste klompie jare ook die humoristiese sosiale media-karakter, Bettie, gewild gemaak.
Bettie is ‘n ouer vrou wat dikwels die kat by die snorbaard beet het met woorde en hedendaagse konsepte. Sy steek graag haar neus in ander se sake en skinder bly nie agter nie.

Dean-John Smith in Hallo, is Bettie wat praat

In Hallo, is Bettie wat praat het feesgangers ook ‘n dieper kykie in Bettie se lewe – haar lief en leed – gekry. Smith is uitgeknip vir dié tipe rol.
Hy was ook te sien in die komedie Francois Toerien Show+ waar dié oud-leerling van Schoonspruit Sekondêr (matriek in 2011) ook uitgestaan het met skitterspel.
Smith het drama studeer en sy Honneurs-graad aan die Universiteit Stellenbosch behaal nadat hy op skool reeds kompetisies gewen en ‘n rol in die stuk Vaselinetjie losgeslaan het.

Met heelparty rolle nou al op sy kerfstok en ook Fleur du Cap- en Fiësta-toekennings, het hy by Woordfees 2023 veral uitgestaan in die dansdrama Karatara.
Die stuk is geskoei op die tragedie van die verwoestende brand wat in 2018 die Suid-Kaap getref en talle mense dakloos gelaat het.
Smith is nie net as akteur uitgeknip vir die verhoog nie, maar saam met sy mede-akteurs,
Shaun Oelf en Grant van Ster, lewer hulle in Karatara ‘n kragtige dansvertoning onder die regie van Gideon Lombard.

Tinarie van Wyk Loots

Een van Suid-Afrika se heel beste bekroonde akteurs en regisseurs Tinarie van Wyk Loots het haar ‘n paar jaar gelede in die Swartland gevestig.
Sy het, soos verwag, by die Woordfees op Stellenbosch weer uitgestaan. In die rol van vertaler/regisseur het sy die vehoogstuk Monsters vir ‘n plaaslike gehoor herverpak. Dit handel oor die grusame gebeure 30 jaar gelede in Engleand toe twee 10-jarige kinders ‘n tweejarige doodgemaak en die liggaam op die treinspoor geplaas het. Die tergende vrae oor die hoekoms; die gemeenskap en of die gemeenskap, ook van vandag, medeverantwoordelik is vir sulke siek tragedies.
‘n Stuk wat baie diep slaan en Van Wyk Loots het dit uitstekend gedoen.
As akteur was sy ook in Die Vegetariër te sien. Gewis een van die mees opspraakwekkende en diepste toneelstukke op die fees.
‘n Verwerking van die boek van Han Kang wat in 2016 as The Vegetarian (vertaal) die internasionale Booker-prys losgeslaan het.

‘n Getroude vrou besluit op ‘n dag om vegetariër te word. Haar reis en ook die invloed daarvan dan op haar man en hul verhouding en die mense naby hul. ‘n Reis al dieper na haar binneste. Haar lyf en haar reg op keuses. ‘n Diep, swaar, nogal eksplisiete uitbeelding van die wroeginge, dinge wat gebeur en ook haar psigiatriese behandeling dan. ‘n Stuk wat so diep is as wat jy dit wil maak, maar beslis vir geen een net oppervlakkig in die vel kan loop vassteek nie. Baie kompleks en ‘n kop-oop-skieter.
Van Wyk Loots (42) het haar rol as die ma en ook suster in Die Vegetariër weer op meesterlike wyse vertolk.

Pietman Geldenhuys saam met van se mede-orkeslede van die Anglo-Boereorkes en die 1820-setlist

Nog ‘n Swartlander, Pietman Geldenhuys, het saam met medemusikante die verhoog van die Adam Small-teater aan die brand gesing en speel.
Die produksie van die Anglo-Boereorkes en die 1820-setlist was ‘n tipe allegaartjie en absolute belewenis van komiese momente en fenomenale musiek met die uiteenlopende wêreldreise van die lede as onderliggende tema.
Geldenhuys, wat vroeër as die skot Peter Mitchell bekend geword het en later ook mede-aanbieder van Oppie Stoep en deesdae ‘n landbouprogram op TV, het in sy skotse “kilt” die verhoog gedeel met top-musiekmakers.

Sommige meer deurwinter as ander, maar Schalk Joubert, Jannie Hanepoot van Tonder, Sima Mashazi, die energieke Riaan van Rensburg, Robin Auld, Nick Turner en Blake Hellaby het gesorg vir ‘n vertoning wat nog lank onthou sal word.
Met ‘n goeie verwerkings van plaaslike en internasionale musiek, is dit beslis ‘n blokkie op elkeen se tieklysie werd as dit wel weer elders op die planke sal kom.

In nog ‘n produksie wat laat ingesluit is op die program het ‘n oudleerder van die Hoërskool Swartland op Malmesbury, Graeme Watson, die rol vertolk van ‘n reeksmoordenaar wat mans teiken.
Afval is ‘n komedieklug wat ook verlede jaar op die fees en vroeër vanjaar ook by die KKNK op die planke was, Watson is die pa, Johan, van die oënskynlike gemiddelde Van der Merwe-gesin. Hy het ‘n donker verlede. Daar is meer as net ‘n paar geheime. Die stuk, wat op die Universiteit Stellenbosch se Premiére-teaterfees die prys gewen het vir die beste teks, is geskryf deur Gita Fourie oorspronklik van Hopefield.

Leave a Reply

error: Content is protected !!