Sports

Darling, Wesbank gereed vir Boland Top12

Rugby in die Boland het ‘n nuwe fase betree met onlangse groot finansiële inspuitings toe Remgro (deur die Stellenbosch Sportakademie) en die Motsepe Konsortium (African Rainbow Capital) 74% van Boland Rugby se professionele been bekom het.
Dit kan die unie oor jare moontlik weer een van die sterkstes in die land maak.

Onder die direkteure van die Boland Rugbymaatskappy tel Bennie van Rooi, Eugene Maqwelana, Gio Aplon, dr. Johan van Zyl, Neil de Kock, Noel Bastiaan, Robert Goff, Schalk Burger Sr., Stefan Crouse en Willie Small.
Die Boland is ‘n groot streek wat oor jare reeds talle van die land se top-spelers opgelewer het.
Daar is 216 klubs met ver oor die 400 spanne.

Die streek se top-spanne ding in die Grootuitdaag-kompetisie mee. Dié 2023-liga is reeds afgehandel.
Die tafel is nou gedek vir ‘n rugbyskouspel oor die volgende sewe weke wanneer die Sanlam Top12 beslis word om die provinsie se beste span vir 2023 te kroon.

Die twee Swartlandse spanne wat hul streek gaan verteenwoordig en om die titel meeding, is Darling en Wesbank wat onderskeidelik 1ste en 2de in dié substreek geëindig het.

Die kapteins van die Top12-spanne is (agter): Dashton Wellman (Wesbank), Divan Joshua (Saldanhabaai), Hyco Jacobs (Roses United), Shandre Prince (Delicious – Clanwilliam), Philbrey Joseph (Young Hamiltons – Worcester) en Branden Hunter (Hawston).
Voor sit: Chesvill Muller (Bella Vista – Ceres), Wildon Marsh (Darling), Llewelyn Hahn (Vanrhynsdorp Eagles), Kirsten Adams (Mamre), Jumainiune Arendse (Robertson) en Benjamin Dwayi (Safcol – Grabouw).

Darling speel Saterdag gasheer vir Hawston en Wesbank reis na Grabouw om Safcol United aan te durf.
Darling se volgende 4 groepwedstryde (hulle is in Groep A) is op 28 Oktober weg teen Saldanhabaai, 4 November tuis teen Robertson, 11 November weg teen Vanrhynsdorp Eagles en 18 November tuis teen Roses United.

Wesbank is in Groep B. Hulle speel op 28 Oktober tuis teen Mamre, 4 November tuis teen Delicious van Clanwilliam, 11 November weg teen Young Hamiltons van Worcester en 18 November weg teen Bella Vista van Ceres.

Ná die groepfase volg die halfeindwedstryde op 25 November en die eindstryd op 2 Desember.
Al die wedstryde sal ook met ‘n stromingsdiens gebeeldsend word.
Naas Sanlam, is Santam, Vumatel, Tekkie Town en Umbro ook borge van die Top12-kompetisie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!