Agri/BusinessLatest

Pak self persepsies, sê Martelize aan boere

image_pdfimage_print

Boere moet self die positiewe stories na vore bring – die negatiewe persepsies wat oor hulle bestaan, aanpak en met dié tipe stories omkeer. Mense se stories inspireer en verander persepsies.
Só het die bekroonde RSG-omroeper Martelize Brink gesê by die gesamentlike jaarvergadering van Agri Malmesbury se skaap- en koringstudiegroepe waar sy gepraat het oor hoe boere uitgebeeld word in die verskillende mediasektore.

Dié oud-Matie wat van die Paarl kom, het die landbouers bedank vir dit wat hulle doen ten spyte van baie uitdagings en die groot verantwoordelikheid wat op hul skouers rus. Sy het melding gemaak van ‘n berig oor navorsing vir Shoprite se voedselindeks wat aangetoon het 49% van Suid-Afrikaners sal in 2025 – oor twee jaar – honger gaan slaap. Dié syfer is Maandag op Wêreld Voedseldag deur World Data Lab bekend gemaak.
Dit laat ‘n mens net weer dink aan “die geweldige taak wat die boeregemeenskap van Suid-Afrika het om dit nie te laat gebeur nie, ten spyte van die muur waarin julle vashardloop elke dag in terme van die uitdagings”.

Gasspreker Martelize Brink (middel) saam met Agri Malemsbury se voorsitter, Richard Hewett, sekretaresse, Zelda Burger, Koringstudievoorsitter, Hentie Smit, en Skaapstudievoorsitter, John Dürr.

Brink het verwys na 40% subsidie wat boere in ‘n land soos Frankryk ontvang vergeleke met die situasie in Suid-Afrika. “Dit wys net weer vir jou wat julle regkry in Suid-Afrika in vergelyking met dit wat vir julle gegee word om die lewe dalk net ‘n druppel makliker te maak.”
Sy het gepraat oor haar lewe in ‘n rolstoel en hoe mense in boksies geplaas word en ook verwys na die feit dat die meerderheid mense in die gehoor wit mans is en hulle “op ‘n manier onder beleg is in Suid-Afrika – eintlik reg oor die wêreld. Daar word so baie dinge van julle bevraagteken. Waar lê die balans?
“Daar is baie groot vraagstukke wat voor julle sit. ‘n Mens fokus baie op ander groeperings, maar vir julle is dit ‘n moeilike situasie.”

Sy het gesê die woord “Boer” word met ‘n hoofletter en ‘n kleinletter gebruik en dikwels negatief. Brink het verwys na navorsing wat gedoen is oor verskillende terme wat in haatspraak gebruik word en ook die feit dat die woord “B(b)oer” as ‘n naam om mense te prys maar ook om mense te skel/negatief uit te beeld, gebruik en veralgemeen word.
Sy het veral die klem geplaas op konteks en hoe skaars konteks deesdae is en die groot uitdaging om op verskillende platforms van nuus en sosiale media die koring van die kaf te kan skei – om te weet wat is eg en wat is nie. Jy moet só slim wees om te weet.

“Waarop moet ek dan my hoop plaas? Die hoop kan net op jou onmiddellike invloedveld geplaas word. Jy kan niks doen aan wat verder aangaan nie, Jy kan net gaan stem en jou omgewing/invloedveld beïnvloed. Dis al. Jy kan nie meer as dit doen nie.”
Brink het die landbougemeenskap aangemoedig om self inligting en interessanthede/stories oor die doen en late van mense oor die hele spektrum met die media (ingesluit RSG) te deel sodat die stories uitgedra kan word.

*Richard (Dicky) Hewett, voorsitter van Agri Malmesbury, het met die verwelkoming gesê dit is ‘n riem onder die hart om hierdie tyd van die jaar soveel lede by die vergadering te hê.
Ds. Jacobus Maass het die vergadering vroeër geopen en gesê “ons moet met vergaderings en ons lewens ons eie selfsug eenkant los en fokus op die groter prentjie”.
“Alles waarmee ons besig is, moet altyd ooreenstem met wat ons sê ons glo. Dat die voorbeeld wat ons uitdra, God se liefde vir ander ook sigbaar kan en moet maak.”
“Ons getuienis is die woord maar ook die dade wat ons elke dag en elke nag moet uitleef.”

Hentie Smit het as voorsitter van die koringstudiegroep in sy jaarverslag melding gemaak van die nat jaar – dat dit ook vroeër begin reën het en dat tydsberekening met chemie en kunsmisprogramme in só ‘n jaar baie belangrik is.
“Daar kom definitief uitdagings met ‘n baie nat jaar, maar met baie reën kan ‘n mens planne maak. Met geen reën kan dit maar moeilik wees.”
John Dürr, voorsitter van die skaapstudiegroep, het ook dié groep se werksaamhede vir die jaar toegelig. Hy het ook studiegroeplede wat met die vertoon van puik genetika by skoue en veilings asook met verskeie toekennings die Malmesbury-vlag hoog laat wapper het, gelukgewens. Onder hulle tel Eben Schellink, Erika Hanekom, Ewan Louw, Johnny Forbes en Jan Coetzee.
Hy het Hanekom ook bedank vir die mentorskaprol wat sy speel in die studiegroep.

*Die nuwe besture vir die twee studiegroepe is op die vergadering verkies.
Die nuwe koringstudiegroepbestuur is: Dirk Lesch, Dolfie Walters, Derick Becker, Truter de Kock, Gert Claassen, Hennie Eksteen, Eben Schellink, Johan Smuts, Hentie Smit, Michiel Smuts, Dickie Hewett, Jan Bester, Paul Truter, Fanie Walters en Gielie Bester. Jan Bester is as voorsitter aangewys.
Die nuwe skaapstudiegroepbestuur is: Ewan Louw, Wilhelm Relihan, Eben Schellink, Erika Hanekom, Hentie Smit, Hugo Torr, Johnny Forbes, Oubasie Lesch, Peter Steyn, Stephan Hamman, Pieter Euvrard, Pieter Hamman, Juan Louw en Nollie Stoffberg. Hul voorsitter word aanstaande week gekies.

Leave a Reply

error: Content is protected !!