Sports

Top12 skop nie gunstig af vir Darling, Wesbank

Die Boland se klubrugby Sanlam Top12 het die afgelope naweek vir die Swartland se spanne, Darling en Wesbank, minder sukses gebring as die eerste ronde van verlede jaar se Top12.
Beide spanne moes Saterdag die knie buig voor onderskeidelik Hawston en Safcol.

Darling het gasheer gespeel vir Hawston, terwyl Wesbank na Grabouw gereis het vir hul kragmeting met Safcol.
Darling het bly terugveg in ‘n wipplankwedstryd nadat hulle laat in die eerste helfte nog met 6-19 agtergeloop het. Hulle het in een stadium die voortou geneem met 30-26 en later weer met 37-33, maar Hawston was uiteindelik baas met 40-37.

Wesbank het in hul kragmeting ook in een stadium nog met 15-7 voorgeloop, maar die wedstryd op ‘n nat veld met 15-21 verloor.
Dit is wel nog vroeg in die Top12-kompetisie en elke span het nog 4 groepwedstryde oor.
Die komende naweek speel Wesbank gasheer vir die besoekers van Mamre. Laasgenoemde het die afgelope Saterdag tuis met 23-45 teen die besoekende Young Hamiltons van Worcester verloor.

Darling reis Saterdag na Saldanha om die verdedigende kampioen te pak. Saldanhabaai, wat in die naelbyteindstryd verlede jaar ná ekstra tyd met ‘n stelskopstryd vir Bella Vista geklop het, het die afgelope naweek self ‘n nederlaag gely. Hulle het in hul wegwedstryd naelskraap met 25-24 teen Robertson vasgeval.

Die ander vier wedstryde van die komende naweek is (tuisspanne eerste genoem): Roses United (Wellington) teen Robertson; Hawston teen Eagles (Vanrhynsdorp); Young Hamiltons (Worcester) teen Bella Vista (Ceres) en Delicious (Clanwilliam) teen Safcol (Grabouw).

Leave a Reply

error: Content is protected !!