Sports

Swartlanders beleef beter Top12-naweek

Die twee Swartlandse spanne in Boland Klubrugby se Sanlam Top12-kompetisie, Wesbank en Darling, het dié naweek die bordjies verhang en beide het seges behaal in die tweede ronde van dié kompetisie.
Darling het na Saldanha gereis om die verdedigende kampioene op hul tuisturf aan te durf.

Die twee spanne spog met twee sterk pakke en hulle het mekaar goed opgedreun in die wedstryd wat in windtoestande beslis is.
Darling het met die wind in hul guns eerste hul merk gemaak en die telbord aan die rol gesit met ‘n verdoelde drie in die vierde minuut. Daarna het ‘n strafdoel en nóg ‘n verdoelde drie die besoekers met 15-0 laat voorloop.
Nog was dit het einde niet. Die melkboere het voorlangs gedomineer en dit as basis gebruik om die voorsprong nog verder te rek tot eers 27-0 en toe 34-0.
Die tuisspan het voor rustyd met ‘n drie geantwoord om hul rekening te open vir die rustydtelling op 34-5.

Saldanha het daarna die tweede helfte met nuwe ywer aangepak met die wind van agter en na ‘n ander span gelyk. Hulle het vroeg teruggeslaan met ‘n verdoelde drie en dit opgevolg met nog een.
Ook in die skrums het die tuisspan baie beter gevaar. Hul vierde drie het in die 23ste minuut gevolg en enkele oomblikke later ook hul vyfde drie en toe hul sesde om die voorsprong te neem voor Darling enige punte in die tweede helfte kon byvoeg. Die Melkboere het gaan druk om weer voor te loop en die wedstryd met 41-38 te beklink vir hul eerste sege op Saldanha.

Op Malmesbury het Wesbank die span van Mamre ontvang. Ook dié wedstryd het in windtoestande plaasgevind. Mamre het in die eerste helfte saam met die wind gespeel.
Die besoekers het die telbord vroeg aan die rol gesit toe hulle met ‘n strafdoel eerste punte aangeteken het. Hulle het dit opgevolg met ‘n verdoelde drie om met 10-0 voor te loop.

Wesbank se heelagter Dillon Strydom het geantwoord met ‘n drie en kort daarna het Wesbank ná ‘n sterk lopie deur Keanan Solomons weer agter die doellyn gaan kuier om sake gelyk te maak op 10-10.
Mamre het weer die voortou geneem en twee strafdoele later was die rustydtelling 16-10 in die besoekers se guns.
Die tuisspan se Melvin Laserus het eerste gaan druk in die tweede helfte nadat hy ‘n skop van Mamre afgestorm het. Dié verdoelde drie het Wesbank die eerste keer die voortou laat neem.

Die tuisspan het toe na ‘n hoër rat oorgeskakel en nóg twee drieë bygevoeg om die telling op
29-16 te staan te bring.
Mamre het laat in die wedstryd geantwoord met ‘n drie en die gaping laat krimp tot 29-23.
Hulle het weer op Wesbank se doellyn geboer, toe Wesbank die bal van ‘n los aangee onderskep en deurnael om die laaste spyker in Mamre se kis te slaan. Die eindtelling was 34-23 in Wesbank se guns.

In die derde ronde se wedstryde die komende naweek kom Wesbank om 15:00 op sy tuisveld teen Delicious (Clanwilliam) te staan, terwyl Darling om 17:00 ook tuis speel teen Robertson.
Die ander vier wedstryde van die komende naweek is (tuisspanne eerste genoem): Eagles (Vanrhynsdorp) vs Saldanhabaai; Roses United (Wellington) vs Hawston; Bella Vista (Ceres) vs Mamre en Safcol (Grabouw) vs Young Hamiltons (Worcester).

Leave a Reply

error: Content is protected !!