7 kandidate vir SM Wyk 7 op 8 Nov
Vandag oor ‘n week op 8 November trek kiesers in Wyk 7 van die Swartland Munisipaliteit hul kruisies om ‘n nuwe wyksverteenwoordiger op die raad van die munisipaliteit te verkies.
Die pos van wyksraadslid is vakant gelaat toe raadsheer Basil Stanley uit die DA en só ook sy posisie as raadslid bedank het.
Die sewe partye wat mekaar die stryd aansê, is die ACDP (kandidaat Lesley Esau), ANC (kandidaat Thembalethu Nongogo), DA (kandidaat Allan Williams), EFF (kandidaat Miriam Hugo), PA (kandidaat Rodney Esau), UIM (kandidaat Marlon Truter) en VF+ (kandidaat Amber Booysen).
dié courant het vroeër reeds oor vyf van die kandidate berig (Eerste skote klap vir wyk 7), (Veldtogte vir SM wyk 7 op dreef) en nou ook met die oorblywende twee, Lesley Esau en Marlon Truter, gesels.
Lesley Esau (54) van die ACDP is ‘n boorling van Malmesbury. Hy vertel hy is ‘n voltyds pastoor en woon op Abbotsdale.
Oor sy beoogde bydrae sou hy tot raadslid verkies word, sê Esau hy “sal graag wil sien dat ons mense bemagtig word deur selfbemagtigingsprogramme aan te bied. Finansiële bemagtiging sal prioriteit wees.”
Truter (47) sê hy is in Kaapstad gebore en woon tans op Chatsworth.
Hy is ‘n siviele/strukturele ingenieur met sy eie onderneming.
“I would like the voices of the people to be heard, within Swartland, as its becoming a municipality of dictatorship. Communities within Swartland needs to be uplifted and not stepped on. Work needs to be created for the unemployed.”
Wyk 7 sluit Kalbaskraal, Abbotsdale en ‘n gedeelte van Malmesbury in.
Volgens die Onafhanklike Verkiesingskommissie is daar 5285 kiesers geregistreer in die wyk.
Hul dui die volgende 5 stemlokale aan: OJ Erasmus Primêr op Kalbaskraal; Abbotsdale Gemeenskapsaal; Korrektiewe Dienste Menasiegebou (Mess Building) op Malmesbury; Welgemeend Gemeenskapsaal (Joubertskloof) en Doornekraal-plaas langs die R302 na Durbanville.