LatestOns Mense

Philicus was ‘onbaatsugtig’; mal oor kos maak

‘n Passievolle kos- en kunsmens. Iemand wat soveel drome gehad het en nie als tot uitvoering kon bring nie. ‘n Kreatiewe siel en kunstenaar. Die man wat die Medfest in die Riebeekvallei destyds van stapel gestuur het. Mede-uitgewer van ‘n boek om die Riebeekvallei se olyfbedryf te vier. Ook ‘n opgaarder en iemand met ‘n liefde vir die Riebeekvallei wat baie aktief gepoog het om dit in 2009 as Dorp van die Jaar bekroon te kry. Ook een van die inwoners wat voorheen ure spandeer het aan planne oor hoe om die dorpsplein op Riebeek-Kasteel te ontwikkel tot ‘n pragtige park.

Philicus Olivier is onlangs ná ‘n stryd met kanker in sy huis op Malmesbury oorlede.
Hy was 75.
dié courant het met kunstenaar Louisa Gerryts wat hom vir baie jare geken het, Chris Murphy, mede-uitgewer van die boek Picked, Pressed & Plated en Jolene Janse van Rensburg van die Swartland Wyn- en Olyfroete gesels.
Olivier het in Kaapstad grootgeword waar hy by Jan van Riebeek skoolgegaan het.
Hy het argitektuur studeer en later meubelontwerp in Londen.

Mede-uitgewer Chris Murphy deel dié foto’s van Olivier besig om resepte vir die boek Picked, Pressed & Plated te berei.

Daarna was hy vir baie jare betrokke in Johannesburg by die ontwerp en bou van stelle vir groot uitstallings en ook talle ondernemings se embleme ontwerp.
Ná ‘n egskeiding het hy weer teruggekeer na Kaapstad.
In die vroeë 2000’s het Gerryts hom aan Riebeek-Kasteel bekendgestel en hy het op dié vallei verlief geraak.
Hy het ‘n lang tyd hier gewoon voor hy vir ‘n paar jaar in Amerika was en weer na die Swartland teruggekeer nadat hy siek geword het.

Olivier was ook ‘n kunstenaar en fotograaf

Gerryts vertel van hul tye saam, sy liefde vir kos en ook sy oog vir die fynere besonderhede. “Philicus was mal daaroor om te kook vir mense. Alles het altyd oor kos gegaan. Hy was altyd by die kosfeeste betrokke.”
Sy vertel van uitnodigings vir middagete by sy huis in Kerkstraat wat menige keer lang kuiers geword het en die gaste wat dan eintlik aandete geniet het.

“Hy het ontsettend baie vir die vallei gedoen. Hy het ons mos gekry om deel te neem aan die dorp van die jaar.”
Riebeek-Kasteel was in 2009 as een van Rapport se drie mooiste dorpe van die Wes-Kaap aangewys. Clanwilliam was toe daardie jaar die kompetisié, wat deur Hetta Saunderson gereël is, se Wes-Kaapse wenner.
“Philicus het alles so met oorgawe gedoen. Hy was betrokke by baie dinge.
“Hy kon nogal sit en planne maak en aan idees werk. Sommige daarvan kon hy deurvoer.
“Maar soos my vorige buurvrou altyd gesê het. Ons gaan almal eendag ‘n strepie trek onder ons verhaal.”

Olivier se voorstel vir Riebeek-Kasteel se plein in 2011. Die kunswerk deur Louisa Gerryts

Murphy, ook ‘n kunstenaar, grafiese ontwerper en fotograaf, deel ‘n foto of twee van Olivier toe hy die olyfgeregte berei vir hul boek. Daarin is van die pioniers van die olyfbedryf in die vallei ook vereer vir hul bydrae. Murphy vertel ook van Olivier se bydrae tot die vallei.

Philicus was een van die min mense wat die soveel tyd en energie spandeer het om die Riebeekvallei te bevorder sonder om eie gewin voorop te stel.
Só vertel Janse van Rensburg. Hy het ongelooflik baie tyd spandeer en individueel by elkeen omgegaan en ‘n dik lêer saamgestel vir die Rapport Dorp van die Jaar-kompetisie.
“Met die Medfest het hy ure spandeer en als in die fynste besonderhede uitgewerk – tot die resepte vir elke restaurant ook. Die restaurante mos dit net uitvoer. “
Olivier laat sy vrou, Aletta, twee seuns uit sy eerste huwelik, Lucien en Stephan, en ‘n suster, Ronelle Bester, agter.

Leave a Reply

error: Content is protected !!