LatestSports

Rooms, Van Rooy skitter met kolf in Promosieliga

Die eerste XI van Malmesbury het Saterdag hul vierde sege in Boland Krieket se promosieliga behaal toe hulle die besoekers van Piketberg met sewe paaltjies geklop het.
Piketberg het eerste gekolf en ná ‘n wankelrige begin (12/1 en 15/2), het die besoekers hakke ingeslaan en die telbord aan die rol gesit. Die volgende drie paaltjies (39/3, 44/4 en 51/5) het weer kort ná mekaar gekantel en dit het skielik begin lyk of die tuisspan se boulers die uitklophou vroeg sou plant.

Maar die Piketbergers het ander planne gehad en al het paaltjies 6 en 7 op onderkeidelik 74 en 91 geval, was dit die vennootskap van 52 om die 8ste paaltjie wat die besoekers se aanspraak op die wedstryd lewend gehou het. Hulle is uiteindelik in die 50ste boulbeurt vir 172 uitgehaal.
Keashan Van Rooy het 48 (1 ses en 5 viere) van 65 balle aangeteken voor hy deur Krisnan Oosthuizen gevang is van die boulwerk van Dean Juries.
Die tuisspan se beste boulers was Marlow van Wyk (3/20), Oosthuizen (2/20) en Sergio Rooms (2/24).
Malmesbury is die taak gestel om ná middagete 173 lopies aan te teken.

Hulle het effe stadiger as Piketberg begin en ook vir hulle het die eerste paaltjie (dié van aanvangskolwer Llewellyn Koopman) vinnig gekantel met die telling op 7. Hy is gevang deur Ernwill Afrika van die boulwerk van Justin Goliath.
Abe Henkelman het hom by Keano Goliath aangesluit en die tuisspan het die voortou geneem met lopietempo ná twee goeie boulbeurte wat elkeen 14 lopies opgelewer het.

Dié twee het die telling tot 57 geneem voor Henkelman met sy telling op 34 deur Keashan van Rooy uitgeboul is.
Goliath is 34 lopies later met sy telling op 33 been voor paaltjie betrap deur bouler Ricardo Maarman.
Piketberg het goed beboul en die lopies beperk, maar die twee manne voor die penne het geduldig gebly.
Tevin Timotheus (38; 3 viere) het ‘n ware ankerbeurt gespeel terwyl kaptein Sergio Rooms 46 (2 sesse en 2 viere) van 61 balle aangeteken het.
Die tuisspan het die wenteiken in die 44ste boulbeurt bereik met sewe paaltjies staande.

Hier is ‘n fotoblik op die dag se aksie.

Malmesbury beklee tans die vierde plek op die punteleer ná Robertson, Caledon en Young Peoples. Malmesbury speel Saterdag weg teen Robertson.
Piketberg kon tot dusver net een van hul wedstryde wen en is tans in die agtste plek. Hulle speel Saterdag tuis teen Ceres.
Die ander Swartlandse span, Darling, lê tans sesde. Hulle het al drie van hul ses wedstryde gewen. Darling het Saterdag tuis teen die ligavoorlopers, Robertson, verloor en kom die komende naweek in ‘n wegwedstryd teen Worcester Victorians te staan.

Leave a Reply

error: Content is protected !!