Swartlandse Top12-spanne beleef goeie ronde
Wesbank en Darling se 1ste rugbyspanne het Saterdag in die voorlaaste groepronde van die Sanlam Boland Top12-kompetisie albei seges behaal in hul wegwedstryde teen Young Hamiltons (Worcester) en Eagles (Vanrhysndorp) onderskeidelik.
Wesbank het op Esselenpark ‘n sege van 27-24 behaal en met vyf ligapunte van die veld gestap.
Darling, die Swartland se kampioen, het op hul beurt ‘n groot oorwinning van 47-12 oor Eagles behaal en ook vyf ligapunte huis toe gebring.
Wesbank was met die rustyd met 3-5 agter, maar vroeg in die tweede helfte die voortou geneem.
Die tuisspan het later teruggeslaan om weer voor te loop voor Wesbank die uitklophou met ‘n drie in die laaste twee minute kon plant en ‘n sege kon behaal.
Hulle beklee met 16 punte tans die tweede plek op die Groep B-punteleer voor die naweek se bulstryd op Ceres teen Bella Vista, tans derde op die punteleer.
Darling was voor die naweek nog in die vyfde plek in Groep A maar het met die goeie vertoning op Vanrhynsdorp opgeskuif in die derde plek.
Die besoekers het met ‘n drie die eerste punte aangeteken op Vanrhysndorp en was rustyd met 19-7 voor.
Hulle in die tweede helfte die krane oopgedraai om uiteindelik 47 punte op te stapel.
Darling speel dié naweek gasheer vir die besoekers van Wellington, Roses United, wat in die vierde plek ook tans 13 ligapunte het.