Darling, Wesbank deur na Top12-halfeind
Die Swartland se vlag wapper hoog met albei die streek se spanne wat hulle plekke bespreek het in die Boland Rugby Top12-kompetisie se halfeindronde.
Darling wat vanjaar die Swartland se kampioenspan is, het met sy tuissege (40-33) Saterdag oor die sterk span van Roses United (Wellington) tweede geëindig in Groep A agter Robertson.
Wesbank het op hul beurt die span van Bella Vista (Ceres) op laasgenoemde se bastion aangepak en die wedstryd met een punt (30-29) gewen om ook in hulle groep (Groep B) tweede te eindig agter Safcol (Grabouw).
Dit beteken daar moet ‘n nuwe kampioen gekroon word nadat die verdedigende kampioen, Saldanha, nie die halfeindronde kon haal nie.
Darling kom Saterdag om 14:00 op Wellington teen Safcol (wat nog onoorwonne is in die kompetisie) te staan, terwyl Wesbank ook in die Boland Stadion die oonoorwonne span van Robertson om 16:00 die stryd sal aansê.
Nie Darling of Wesbank sal dus as gunstelinge beskou word nie, maar albei is gedugte spanne om mee rekening te hou en verdien om in die halfeindronde te speel.