CommunityLatest

Nuwe vredestuin op Goedgedacht aangelê

Rolspelers in die geskiedenis van die Christelike Instituut van 1963 tot in 1977 toe dit verban is, is dié naweek met ‘n olyfboord van vrede op Goedgedacht in die Riebeeksrivier gedenk.
Familielede, vriende en geesgenote het die 28 olyfbome geplant om saam te val met die 60ste herdenking van die stigting van die Christelike Instituut in Desember 1963.

Die anti-apartheidaktivis en medestigter van die instituut, dr. Beyers Naudé, se seun Johann en skoondogter Rita was onder die gaste wat bome geplant het. Hulle het ook ‘n olyfboom vir dr. Naudé se vrou, Ilse, geplant.
Hulle is bygestaan deur dr. André Bartlett wat jare nadat Naudé in Oktober 1963 as predikant van die NG gemeente Aasvoëlkop uit die kerk bedank het, ook leraar by dié gemeente was.
Bartlett, tans nog betrokke by die Universiteit van Pretoria se sentrum vir voortgesette bedieningsontwikkeling, verhuis eersdaags na die Swartland.

Onder die ander lede van die Christelike Instituut wat die bestel van die tyd teengestaan het en in die nuwe vredestuin gedenk word, tel Des Adendorff, Stephen (Steve) Biko, Francoise Bill, dr. Manas Buthelezi, June M Chabaku, Dorothy (Dot) Cleminshaw, ds. Frederik (Frikkie) Conradie, Cosmas Desmond, Florrie de Villiers, dr. Wolfram Kistner, Anne Hope, Helen Kotze, Theo Kotze, Mashwabada (Castro) Mayathula, Cedric Mayson, Tsankie (Ali) Modiakgotla, Lindi Myeza, dr. Margaret Nash, aartsbiskop Harry N Ngada, Albert Nolan, dr. Oshadi Jane Phakathi-Mangena, James (Jim) Polley, Rob Robertson, David Russell, Vesta Smith en prof. Francis Wilson.

Een van die gaste wat ‘n boom geplant het, is die oud-minister Trevor Manuel. Hy het die boom vir Polley geplant.
Die besturende direkteur van die Goedgedacht Trust, dr. Deon Snyman, het by die geleentheid vertel dat die olyfbome wat geplant is, hul oorsprong in Jerusalem het.

Ná afloop van die boomplanting, is die verrigtinge in die interkerklike kapel langs die vredesboord voortgesit.
Snyman het Horst Kleinschmidt, ook ‘n veteraan van die Christelike Instituut, bedank omdat “sonder sy werk, passie en ondervinding dié projek nie ‘n werklikheid sou word nie”.

Snyman het by navraag aan dié courant meer agtergrond oor die projek gegee.
“Goedgedacht het die intergeloof-kapel wat ook die geeslike dimensie van ons werk onderstreep. Die tradisie van die afgelope dertig jaar is dat ons betrokke is om geregtigheid te bevorder in die gemeenskappe waarbinne Goedgedacht werk.
“Omdat ons ‘n konneksie het met die geloofstradisie en met sosiale geregtigheidswerk, kan ons daarom ook identifiseer met die Christelike Instituut, want die Christelike Instituut is gemotiveer deur teologie om geregtigheid te bevorder.
“So die persone wat Goedgedacht gehuldig het die afgelope Saterdag, is mense wat ook inspireer, Goedgedacht inspireer om voort te gaan met die werk wat ons doen om ‘n beter saamelewing vir almal daar te stel.

“Die Christlike Instituut het gefunksioneer in die sestiger- en sewentigerjare in ‘n tyd waar die profetiese stem van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke nie so sterk was soos wat dit moes wees nie.
“En die werk wat die Chistelike Instituut daargestel het, het ‘n goeie platform geskep vir die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke in die tagtigerjare om ‘n baie sterker profetiese rol in die gemeenskap te speel.
“Om dit kortliks saam te vat, dit het eintlik die platform geskep vir Aartsbiskop (Desmond) Tutu om dan die geloofsgemeenskappe te mobiliseer om geregtigheid in die samelewing te bevorder.
“Dit is die agtergrond waarom die projek ook vir Goedgedacht belangrik was en in die toekoms gaan ons ook ander geloofsleiers van verskillende geloofstradisies wat ook geregtigheid bevorder het, op dieselfde wyse te Goedgedacht gedenk.”

(Hierdie berig is bygewerk sedert die aanvanklike plasing.)

Leave a Reply

error: Content is protected !!