EntertainmentGeneralUncategorized

Riebeek Valley Poets’ Rally om die draai

Kort voor Covid in 2020 het Donker Jonker vir Mark Graham-Wilson genader om met ‘n gereelde gedigtebyeenkoms in die vallei te begin. In Maart 2020. Maar toe kom grendeltyd.
Poetry Jam is net daar gekelder voor dit kon begin. Maar maande later toe dinge begin oopmaak en Graham-Wilson die Royal Arts Town-amfiteater bekom het, het Poetry Jam sommer sterk weggespring.
Die res is geskiedenis.

Poetry Jam het nuwe lewe gekry toe Jonker en Tamsin Lovell-Miller dié maandelikse byeenkoms begin bestuur het.
Dit word steeds elke maand by The Co-op in Short Street gehou en vind nog onder die vaandel van die For Life Centre plaas.
Jonker vertel daar is besluit om ook elke maand ‘n gasdigter – ‘n ander stem in te bring. Nou was daar al ‘n hele paar Ingrid Jonker-pryswenners by Poetry Jam.
“Ons het besluit om daardie gehalte digkuns vir die gehoor te bring en ook om plaaslike digters te inspireer en wenke uit te ruil.
“Ons werk hard daaraan om nie elitisties te wees nie. Maar dit is fun.
“Ons maak poetry pret
we do not read poetry
we rock poetry

ons wil dit vir almal toeganklik maak.
“Om stemme te werf. Stemme op te hef en aan mense ‘n platform, ‘n stem te gee. En dit hoef nie literêr te wees nie.

In 2021 het Poetry Africa ‘n projek hier gedoen met plaaslike digters.
Hulle het ook vier van Suid-Afrika se voorste gesproke woord-kunstenaars – Diana Ferrus, Lebo Mashile, Xabiso Villi en Thando Fuze – na Riebeek-Kasteel gebring vir optredes en om werkwinkels vir die plaaslike digters aan te bied.
Die Royal Arts Town Amphitheatre (RATA) was ook die wenner van die Poetry In Communities-toekenning by die 25ste Poetry Africa in 2021.
Jonker en nog twee plaaslike digters, Nicolene Smit en Bradley Arendse, is toe in 2022 na Durban genooi.
Daarvandaan het Jonker gekom met nuwe inspirasie.
“My missie was om te gaan leer – te gaan steel met die oog. Al is dit totaal ander tipe gedigte.
“Ek was weggevoer met die passie van die mense – asook dié van die digters.”
Een van die sterre was Xabiso Villi.

“Ek het besef digters van oor die wêreld is almal familie – ‘n sekere tipe mens
“A poet is a poet at heart.
“Ek het geweldig geïnspireerd teruggekeer en gedink Riebeek leen hom perfek vir so ‘n jaarlikse digtersviering – om die digkuns te vier. Die vallei is klaar bekend vir kunste en hier is volop akkommodasie en ons het klaar die Poetry Jam as ‘n maandelikse platform.”
Hy het met Graham-Wilson gesels. Hulle het die konsep bymekaar gesit vir die Riebeek Valley Poets’ Rally – ‘n klomp mense met gemeenskaplike belang wat bymekaar kom.
‘n “Groot groot klomp pret die naweek en hulle gaan ná die naweek meer geïnspireerd terug en die broederskap is net groter.”
Só het die CULT(ure) of POETS-beweging beslag gekry.
For Life Centre het ‘n aansoek ingedien by die Wes-Kaapse regering vir die nodige fondse vir die naweek onder hul vaandel en toe het als gebeur.
Jonker sê hulle “wil die uitdrukking aanmoedig. Nie net lees nie. Hoe jy dit uitdra. Die intonasie.
Die theatricality and musicality of a poem. Daardie goed weeg vir my sterk.”
Riebeek Valley Poets’ Rally. 1 tot 3 Maart (https://diecourant.co.za/2024/02/01/nuwe-digtersnaweek-skop-af-met-propvol-program/).
Loer ook in by die facebookblad https://www.facebook.com/profile.php?id=61555590446588.
*Riebeek Valley Poets’ Rally word moontlik gemaak deur die Wes-Kaapse regering deur die Stand-stigting.

Leave a Reply

error: Content is protected !!