Plaaslike digters praat oor hul werk
Daar is twee dae oor voor die digtersnaweek Riebeek Valley Poets’ Rally Vrydag afskop.
Die naweek se program sluit, naas bekroonde digters wat die vallei besoek, ook heelparty plaaslike sterre in.
Onder hulle tel die bekroonde Kobus Moolman en Donker Jonker.

Woordkuns in die Riebeekvallei het ‘n reuse-hupstoot gekry toe die maandelike Poetry Jam van stapel gestuur is.
Dit gaan steeds van krag tot krag met Donker Jonker en Tamzin Lovell-Miller wat dit tans lei onder die vaandel van die For Life Centre.
Poetry Jam bied die geleentheid en ‘n platform aan plaaslike digters om hul werk voor te hou en te ontwikkel.
dié courant het enkele van dié digters oor hul poësie en pad met Poetry Jam uitgevra.

Bradley Arendse sê ná hy in 2013 gediagnoseer is met nierversaking, het hy ‘n “uitlaat gevind in die vorm van dig vir my emosies en ervarings. Ek het verlief geraak op die kuns en vrede gevind daarin.
“Om my gedagtes in digvorm te sien, maak my baie trots. Die vloei daarvan en die indiepte-konteks tussen die lyne maak my hart warm, veral as mense positief reageer daarop.”
Hy voeg by dat Poetry Jam hom selfvertroue (“daai hupstoot”) gegee het. Iets wat ek nodig gehad het. Ek sou waarskynlik nie so baie gegroei het sonder die insette en ondersteuning van die Jam nie.”
Hy is “trots om deel te wees van so ‘n groep talentvolle mense”.

Warren Samson vertel hy het in 2016 begin gedigte skryf.
“Dit is my lewensverhale uit lewensepisodes.
“Dit laat my goed voel om dit te deel met ander wat weet waarom daar gedigte geskryf word.”
Hy sê Poetry Jam is vir hom ‘n “platform waar ek altyd tuis voel en dit inspireer my altyd om my nuwe werk navore te bring.”

Nog een van die plaaslike digters Kobus Frantz het al gedigte begin skryf toe hy op skool (standerd 6) was. Op hoërskool was een van sy gedigte in ‘n koerant gepubliseer. “In 2021 het ek en my dogter saam ‘n bundel Hede en Verlede gepubliseer.
“Ek skryf gedigte uit liefde vir die kuns van woorde. Ek probeer ook om sin te maak uit wat rondom my aangaan.”
Oor Poetry Jam voeg hy by: “Dit het my die kans gegee om my gedigte voor te lees aan ander digters. Ek kan ook luister hoe ander digters met poësie werk en daaruit leer.

Caren Kearley, het “haar lewe lank gedig en goedjies geskryf” maar “in my 40’s eers besef dat my digtery ‘n talent is. Ek het regtig gedink almal kan dit doen. Ek het dus baie tyd gemors, maar in 2016 ‘n ernstige poging begin aanwend om iets met my skryftalent te doen.”
Gepols oor hoekom sy dig, sê Caren: “Hier is ‘n stukkie uit een van my gedigte wat dit antwoord:
“Soms skryf ek jou heel
ander kere skryf ek jou aan flarde
maar vandag wil ek jou lewend skryf”.
“Ek skryf dus nie net vir myself nie, ek skryf omdat ek iemand anders soms daarmee kan help.”
Sy sê Poetry Jam “was nog altyd vir my ‘n heerlike manier om my skrywerk met “like-minded” mense te deel en weer by ander digters nuwe dinge te leer.”

Nicolene Smit sê sy moes op laerskool haar juffrou se gedigte oorskryf in ‘n boek. “Dit was vir my ‘n ander, nuwe, interessante wêreld wat oopgemaak het. Daar het ek begin met my eie klein rympies.” Sy het ook goed gevaar met opstelle en ander skryfwerk.
Haar poësie “is ‘n platform waar ek kan oordra, sê hoe en wat ek waarneem, voel en dink sonder om bang te wees – ook die geskiedenis van my herkoms, my hede en my toekoms. En om ‘n inspirasie en ‘n baken van hoop vir ander te wees.
“Poetry Jam het my my liefde en passie vir skryf en lees weer laat herontdek.
“Almal het ‘n stukkie kunstenaar binne hulself wat wag om ontdek te word, wat wil uitkom, wat vry wil wees.”
Die Riebeek Valley Poets’ Rally-program sluit ‘n spesiale Poetry Jam Sondag om 11:00 by The Co-Op in.
*Poets’ Rally word moontlik gemaak deur ‘n toekenning van die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport via die Stand-stigting.