LatestSports

Abbotsdale se jaar begin soet én suur

Die Abbotsdale rugbyklub het geskiedenis gemaak toe hul die eerste wenners van die Swartland-burgemeestersbeker geword het. Die klub sal egter die 2024-seisoen met gemengde gevoelens aandurf. Alhoewel die span tevrede kan wees met hul vertoning in die Burgemeestersbeker, het dié titeloorwinning teen ‘n baie groot premie gekom.

Twee sleutelspelers het ernstige beserings opgedoen en sal baie lank langs die kantlyn wees. Andrew Jantjies (slot) het ‘n ernstige kniebesering opgedoen en Adrian Neelse (vleuel) sal vir ‘n geruime tyd met ‘n gebreekte hand buite aksie wees.
Die laaste paar seisoene was die span van Abbotsdale een van die voorlopers in die Swartland-afdeling van die Boland se Grootuitdaagkompetisie, maar het elke keer by die laaste hekkie gestruikel. Hulle het tot dusver vanjaar ‘n paar waardevolle lesse geleer in hul vriendskaplike wedstryde teen Young Eagles van Riverlands, Grabouw en Belhar.

Denver Koopman, hoofafrigter, sê die 2024-seisoen sal moeiliker en baie kompeterend wees. “Dit is duidelik dat die kleiner spanne die meer ervare spanne inhaal. Daar is geen maklike wedstryde nie en as jy nie skerp en op jou beste is nie, sal jy beslis aan die verloorkant wees.
“Ek is tevrede met ons voorbereiding tot dusver en ek verwag dat ons beter sal word soos die seisoen aangaan. Ons doelwit is om ’n goeie eerste ronde te hê en goed geplaas te wees om in die laaste deel van die seisoen om die titel te kompeteer, “het Koopman bygevoeg.

Die klub het onlangs sy seisoenkaartjieveldtog van stapel gestuur. Dit stel toeskouers in staat om vooraf parkeerruimte vir ‘n voertuig en vier toeskouers te bespreek.
Abbotsdale se 2024-seisoen begin Saterdag 2 Maart met ’n tuiswedstryd teen Saron.

Leave a Reply

error: Content is protected !!