Krotz ANC se kandidaat vir SM Wyk 11
Die ANC het vir Stanford Krotz as hul kandidaat aangewys vir 24 April se tussenverkiesing in die Swartland se wyk 11.
Die posisie vir die wyksraadslid het vakant geword met die dood van raadslid Collin Daniels (DA).

Krotz (46) woon in Saamstaan en vertel hy is oorspronklik van Valhalla Park.
Hy is ‘n nutsman en sportafrigter “met ‘n groot liefde vir die welstand van die jeug”.
“Maak seker dat die keuse wat jy gemaak het, die gemeenskap sal bevoordeel – veral die jeug en minderbevoorregte inwoners van ons wyk.
“Ons word ook gekonfronteer met baie uitdagings in ons gemeenskap, maar niemand is regtig bereid om saam met ons te veg nie. So laat ons hande vat hand en verenig as een.”

Die ander kandidate (sover bekend) vir die tussenverkiesing is Alfonzo Mackenzie (EFF), Dihno White (PA), Maude Goliath (DA) en Moos Jaanse (Onafhanklike Kandidaat).
Daar is twee stemlokale – Wesbank gemeenskapsaal in Jasmynstraat en die Sportsentrum in Alfastraat.

Die tussenverkiesing is een van 14 wat op 24 April landswyd plaasvind. In nog ‘n Weskus-munisipaliteit, die Cederberg, word ‘n tussenverkiesing in wyk 3 op Clanwilliam gehou nadat die dienende raadslid, Maxwell Heins, uit die ANC en so ook uit die raad bedank het. Hy is nou vir Cederberg Eerste een van die kandidate in die tussenverkiesing. Die ander kandidate daar (sover bekend), is Leonard Stevens (onafhanklik), Jacob Klaase (ANC), Siyanda Cukula (EFF) en Janine Fredericks (PA).