Só sal Swartland M se planne jou sak raak
Bouwerk aan nuwe Wesbank-swembad begin
Die Swartland Munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harold Cleophas, het vanoggend die konsepbegroting vir die volgende termyn ter tafel gelê.
Die burgemeester moet dit in terme van wetgewing ten minste 90 dae voor die aanvang van die begrotingsjaar doen.
Dié begroting is nou oop vir publieke deelname/kommentaar/vertoë tot 30 April en onderhewig aan die latere finale goedkeuring deur die raad.

Met in die inwerkingstelling van die nuwe waardasierol op 1 Julie vanjaar, sal baie eiendomme se waarde daarop aansienlik toeneem sedert die vorige rol van krag geword het.
In die lig hiervan, is die plan om die koers van eiendomsbelasting vir 2024/25 te verlaag met 5,7% om die impak te versag. Die netto-effek van die verlaging in die koers, bevestig Cleophas, is dus nie dat inwoners oor die algemeen minder sal betaal as nou nie.
Die huidige koers vir residensiële eiendom is 0,5956 sent per jaar vir elke een rand van jou eiendom se waarde. Die nuwe konsepkoers is 0,5624 sent per jaar.
Die koers vir kommersiële eiendom sal volgens die plan onveranderd bly op 0,8769 sent per jaar. Landbou-eiendom kry steeds ‘n 75%-korting op die koers vir residensiële eiendom en verlaag dus na 0,1406 sent per jaar vir elke een rand van die eiendom se waarde.

Die beplande stygings vir dienste vanaf 1 Julie is soos volg: 11% vir vullisverwydering, 5,9% vir water en 5,9% vir riool.
Oor die elektrisiteit het Cleophas gesê Eskom sal hul tarief aan die Munisipaliteit verhoog met 12,7%. “Ons tariewe is onderhewig aan NERSA-goedkeuring en ons wag nog daarvoor.”
Oor die tariefverhogings het hy gesê: “Ons ly almal weens die swak ekonomie en ons het vanjaar weer daarin geslaag om ons tariewe so laag as moontlik te hou.”

Hy het ‘n paar ander aspekte van die begroting uitgelig en gesê die grondwerke vir die nuwe swembad in Wesbank “so groot soos die een in Voortrekkerweg” het begin en bouwerk sal in die nuwe boekjaar ‘n aanvang neem.
Inwoners kan volgens hom ook daarna uitsien om voortaan voorafbetaalde elektrisiteit aanlyn te koop wanneer dié stelsel ingestel sal word. ‘n Aankondiging oor die datum sal by die volgende raadsvergadering gedoen word, het hy bygevoeg.
Vir Kalbaskraal sluit die konsepbegroting ‘n veeldoelige sentrum teen ‘n beraamde koste van R7 miljoen in. Die beplanning, aldus Cleophas, sal in die nuwe boekjaar begin.

Hy het ook gesê daar is R80 miljoen bewillig om oor die volgende drie jaar nuwe paaie in die Swartland te bou.
Cleophas het ook melding gemaak van planne om ‘n nuwe brandweerwa aan te koop en planne om meer brandweerpersoneel aan te stel. Die eerste twee van dié poste sal volgens die planne in die nuwe boekjaar geskep word.
Die kapitaalbegroting (konsep) vir die nuwe boekjaar beloop R379,877 miljoen.
Die bedryfsuitgawebegroting (konsep) styg met nagenoeg 10,74% van R 1 071,352 miljoen tot R 1 186,394 miljoen terwyl dit aan die inkomstekant met 14,44% styg van R 1 252,423 miljoen tot R 1 433,297 miljoen.
Die salarisbegroting sal na verwagting van R 330,66 miljoen tot R 354,754 miljoen styg.
