Eerste kandidate vir SM Wyk 11 gesels
Met die dood van die Swartland-raadslid Colin Daniels verlede maand het daar ‘n vakature in Wyk 11 ontstaan.
Die nuwe wyksraadslid sal op 24 April in ‘n tussenverkiesing aangewys word.

Daniels het die wyk in 2016 die eerste keer gewen nadat die vorige wyksraadslid, raadsdame Maude Goliath, as ‘n proporsionele kandidaat vir die DA aangewys is.
In 2021 het Daniels weer die wyk vir die DA gewen met 44,93% van die stemme (762 stemme).
Die ANC se Gerhardus White het toe 19,99% (339 stemme) ontvang met die VF+ se Amber Booysen 14,8% (251 stemme) en die onafhanklike kandidaat Moos Jaanse 11,97% (203 stemme). Hulle is gevolg deur die PA se Sonja Vermeulen (2,77% – 47 stemme), die EFF se Hendrik Ceaser (2,00% – 34 stemme), Good se Johan Huisamen (1,65% – 28 stemme) en die ACDP se Gregory van Aarde (0,77% – 13 stemme).
Die politieke landskap is tans redelik plooibaar, ook met die nasionale verkiesing op hande teen die einde van Mei.

dié courant het navraag gedoen by politieke partye en kon tot dusver die volgende kandidate vir die verkiesing op 24 April bevestig:
DA – Maude Goliath
EFF – Alfonzo Mackenzie
Onafhanklike Kandidaat – Moos Jaanse
PA – Dihno White
Die ANC het aangedui hulle sal hul kandidaat vandeesweek bekend maak.
Die ACDP, Good en VF+ het bevestig dat hulle nie aan die tussenverkiesing sal deelneem nie.
Goliath (76) was sedert 2003 ‘n raadslid by die Swartland Munisipalitei – later as onderburgemeester tot die 2021-verkiesing toe sy die tuig neergelê het.
Sy sê sy is oorspronklik van Kimberley, maar woon reeds 57 op Malmesbury waar sy vir 24 jaar by die Departement van Gesondheid gewerk het.
“My leuse was nog altyd om diensbaar te wees en elkeen met waardigheid te behandel en so sal ek dit doen sonder enige beloftes.
“Ek het die gemeenskap gedien ongeag wie jy was – kleur of kultuur – en so sal ek dit voortsit.”
Mackenzie (44) vertel hy woon op Chatsworth en is oorspronklik van Bishop Lavis.
Hy is betrokke by aktivisme in die gemeenskap en het al op onder meer die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en Silvertown-boerebeleggingsgroep (FIG) gedien en is ook betrokke by verskillende boerdery- en voerprojekte.
Mackenzie is self ‘n kleinboer en sê hy sal hom onder meer beywer vir ‘n satellietpolisiestasie, 24/7-kliniek, werkskepping, versorging van bejaardes en gestremdes, die inspirasie van mense om hulself te onderhou, programme vir die jeug om uit dwelms te bly, ‘n algeheel veiliger plek vir almal in die gemeenskap en om kleinboere te ondersteun om grondeienaarskap en grondregte te hê.
Jaanse (46) woon in Saamstaan en is voorheen van die plaas Rooidraai. Hy sê hy woon al 32 jaar op Malmesbury en is ‘n pastoor en gekwalifiseerde elektrisiën.
“Oor die algemeen is my doel en visie as ‘n onafhanklike kandidaat om werklik die belange van die gemeenskap te verteenwoordig, inklusiwiteit te bevorder en te werk aan ‘n volhoubare en voorspoedige toekoms vir alle inwoners van Wyk 11.”
Hy sê dit sluit onder andere die volgende in: die verbetering van infrastruktuur, die betrokkenheid van plaaslike besigheid, deursigtigheid, aanspreeklikheid en oorsigrol as raadslid, veiligheid en sekuriteit en om diversiteit en insluiting onder alle Wyk 11-inwoners en die breër Malmesbury-gemeenskap te bevorder.
White (36) woon op Malmesbury en het nie tans ‘n voltydse werk nie.
“My boodskap aan die inwoners van wyk 11: Die Patriotic Alliance is die laaste Hoop vir ons gemeenskap.
‘n “Stem vir Dihno White van Patriotic Alliance as wyk 11 se raadskandidaat is ‘n verandering vir wyk 11 se gemeenskap. Dankie familie van Wyk 11, Swartland Malmesbury.”