Swartland Toerisme loods nuwe KS-kodes in Riebeekvallei
Swartland Toerisme Riebeekvallei het pas ‘n splinternuwe projek geloods om ‘n kitsskakelkode (QR) op produkte uit die vallei aan te bring.
Die nuwe projek het ten doel om uiteindelik meer besoekers na die vallei te lok, het Jonathan Genis van die toerisme-advieskomitee gisteraand by die bekendstelling by The Valley Bistro gesê.
Die “Made in the Riebeek Valley”-kode sal die skandeerder onmiddellik na die Riebeekvallei-toerismeblad neem met meer inligting oor die vallei, lede en aktiwiteite.

Genis het gesê die idee is dat die kode op produkte wat die vallei verlaat na elders in die land en die buiteland, dan daar geskandeer word en mense dan prikkel om die vallei later te besoek.
Hy het ook op die waarde van statistiek gewys wat in die agtergrond versamel word wanneer die plakkers geskandeer word.
Daarmee kan Swartland Toerisme en die lede dan sien hoeveel plakkers ingelees is en wanneer en waar (dorp en land) dit geskandeer is.




“Later,” het hy verduidelik, “kan elke produsent/vervaardiger hul eie KS-kode bekom en selfs vir individuele produkte.”
Op dié manier kan hulle sien waar in die wêreld van hul produkte beland.
Die projek is geloods met ‘n paar produsente wat elkeen 99 plakkers ontvang het om by verkooppunte in die vallei na goeddunke op produkte te plak wat die vallei verlaat.

Van die wynprodusente wat die bekendstelling bygewoon het, het hul steun aan die projek toegesê, maar net daarop gewys dat daar baie streng regulasies oorsee bestaan oor wat op wynbottels vertoon mag word.

Nelius Volschenk het namens die advieskomitee almal bedank vir hul bydrae en ondersteuning van die projek.