EntertainmentLatest

Jong fotograaf oes medalje in Rusland

Alexa Bothè (16), ‘n leerder van die Hoërskool Swartland op Malmesbury, het ‘n IAAP-gouemedalje losgeslaan in die 4de Internasionale Jeugsalon van Eurasia Noframes.
Alexa se foto In the Harbour was die wenner in die “Place of Power”-afdeling om aan haar dié medalje van die Internasionale Vereniging van Kunsfotograwe te besorg. Sy het ‘n totaal van sewe aanvaardings in die salon ontvang.

‘n Salon is ‘n ander naam vir ‘n internasionale kompetisie-uitstalling. Dit is deesdae meesal digitaal en dateer eeue gelede van die Franse term salon – ‘n byeenkoms van mense.
Destyds het groot groepe mense ook byeengekom by kunsuitstallings. Kunstenaars kon hul werk aanbied vir keuring om aanvaar te word vir uitstalling op die beperkte muurruimte. Vandaar die term aanvaarding.
Vandag bied talle fotografieklubs en -verenigings wêreldwyd sulke fotografiese salonne aan om grotendeels ook die klubs te help befonds. Fotograwe stuur foto’s in in die hoop dat dit aanvaar sal word deur die betrokke beoordelaars.
Inskrywings vir hierdie jeugsalon was gratis.
‘n Sekere persentasie van die inskrywings kry aanvaardings as sou dit uitgestal kon word en daar word wel digitale uitstallings/aanbiedinge van die aanvaarde inskrywings saamgestel.
Die top-inskrywings kry spesiale vermelding en die heel bestes ontvang die medaljes.

Alexa Bothè se foto In the Harbour

Die meeste salonne het ook verskillende afdelings. Hierdie salon het 10 afdelings gehad: Color photography (Free theme); Black and white. Monochrome (Free theme); Landscape; Travel photo; Staged photography (Portrait); Animal World; Everyday life. Straight. (Reportage); Inanimate Art; Details are all around us (Macro) en Place of Power. Deelnemers kan meesal tot vier foto’s per afdeling inskryf.
“Die jeug van Suid-Afrika het geskitter in dié salon wat in Rusland gehou is.
“Ons is voorwaar baie trots op die jongmense wat Suid-Afrika se jeug verteenwoordig het in Rusland,” sê Phillip de Lange, die Fotografievereniging van Suid-Afrika (PSSA) se nasionale jeugdirekteur.

“Hierdie kompetisie is vir die jeug van dwarsoor die wêreld in die ouderdomsgroep 10 tot 22. By Eurasia het meer as 1050 fotograwe ingeskryf.”
Altesaam 73 fotograwe van dertien skole/klubs regoor die land het as Die PSSA Jeugfotograwe van Suid-Afrika deelgeneem en 45 van dié deelnemers het saam 353 aanvaardings, wat toekennings insluit, ontvang met ‘n aanvaardingspersentasie van 42,7%.
“Die groep se uitsonderlike prestasie het bygedra dat hulle ook die Goue toekenning ontvang het as die beste klubinskrywing in Rusland.”

Thomas Bothè se foto Spicy star.

Alexa se broer, Thomas (18) het vir die Wes-Kaapse Jeugfotograwe in die senior jeugafdeling ook uitstekend gevaar. Hy het landswyd die meeste aanvaardings (28) ontvang asook drie toekennings.

Thomas Bothè se foto Enlightened Time
Thomas Bothè se foto Arum Lily

AP Eurasia gouemedaljes vir sy foto’s Enlightened Time en Arum Lily en eervolle vermelding vir sy foto Spicy star.

Leave a Reply

error: Content is protected !!