Sports

‘So naby en tog so ver’ vir Rhinos

Dit was die raak beskrywing van ‘n Rhinospeler nadat Piketberg Saterdag in Boland Rugby se Grootuitdaagliga (Weskus) in hul wegwedstryd die knie teen St Helenabaai moes buig.
Laat onttrekings aan die kant van Piketberg het die afrigter genoodsaak om van sy tweedespan-spelers in te span. Dit was ook nie genoeg nie en moes Piketberg die manne van die Baai met net 22 spelers aanpak.

Die tuisspan het met goeie rugby begin maar daarna die Rhinos toegelaat om ook vir 10 minute te wys van watter stoffasie hulle gemaak is. Piketberg se groot slot Percy Houswick dryf hierna die bal tot op die drumpel van die Baaienaars se doellyn en word beloon met ‘n strafskop. Die bestendige losskakel van Piketberg, Waydon Baadjies, voer die bal koelkop oor die pale om Piketberg met 3-0 te laat voorloop.
Die tuisspan se Raymond Papier antwoord egter met ‘n drie en met ‘n suksesvolle doelskop deur die heelagter, Pherlon Julies, neem hulle die voortou met 7-3. Piketberg het weer nadergekruip toe Baadjies ‘n tweede strafskop kon oorsit om die telling te laat aanskuif na 7-6.
Beide spanne het toe weer agter die doellyn gaan kuier met twee pragdrieë deur Diego Talmakkies (St Helenabaai) en Charlton Sias (Piketberg) om die telling te laat aanrol na 14-13 vir St Helenabaai.
Elke speler op die veld het hard gewerk en hul kant gebring.

Vlak voor die einde van die eerste helfte, slaag die tuisspan daarin om ‘n vaskop te haak en ‘n drie te druk om die rustydtelling op 21-13 te staan te bring.
Twee onbeantwoorde drieë deur St Helenabaai se Charles Jordaan en Talmakkies in die tweede helfte het oënskynlik ‘n gevoel van paniek in die Rhinos-kamp gebring met die telling toe skielik op 33-13.
Die ervare Ronald Engelbrecht het as plaasvervanger op die veld gegaan en die jonger spanmaats van Piketberg kalmeer. Hierna het die sterk agsteman van Piketberg, Herman van Sittert, met krag gedryf en Chesslyn Monk kon oorgaan vir die eerste van sy twee drieë.
Minute later laat die Rhino-slot Denver Booysen die Baaienaars se hare behoorlik laat rys toe hy oorstorm vir ‘n drie.
Met nog drieë deur Liam Lesch (St Helenabaai) en Monk (Piketberg) was die tafel op 40-34 vir St Helenabaai behoorlik gedek vir ‘n spannende einde.
Ná nog ‘n drie deur Dihago Booise van Piketberg en ‘n strafskop deur Baadjies, kon Piketberg die tweede keer in die wedstryd voorloop met 42-40.
Die tweede helfte het lank gevoel.

Met die besoekers onder die indruk dat speeltyd, ná een onderbreking vroeër vir ‘n besering, verstreke was, was dit oënskynlik neusie verby vir die tuisspan. Baadjies skop hierna die bal uit met die idee dat die skeidsregter die eindfluitjie sou blaas.
Daar was egter nog ‘n laaste geleentheid om die bal weer in die lynstaan te gooi waarna Piketberg ‘n strafskop afgestaan het.
Die tuisspan het die geleentheid benut om met die strafdoel die oorwinning te verseker en die eindtelling was 43-42.
Elke speler binne die Piketbergkamp kon as die speler van die wedstryd beskou word.
Piketberg speel eerskomende Saterdag tuis teen Young Hearts.

Leave a Reply

error: Content is protected !!