EntertainmentLatest

Kyk Kuru-kuns by !Khwa ttu

Langs die besige R27 op die Weskus snel die verkeer verby, terwyl ‘n juweel al vir 25 jaar lank daar teen die rand aan die ontvou is en met elke besoek oor die laaste 15 jaar is daar altyd iets nuuts te ontdek by !Khwa ttu.
Vandeesweek was geen uitsondering nie.

!Khwa ttu is nie net ‘n lewende museum met die nagevorste storie van die mens se komvandaan; die San-mense van Suider-Afrika, geskiedenis (hartseer en hoopvol); ‘n verskeidenheid saamneem-produkte en ‘n unieke restaurant-, oorbly- en veldervaring nie, dit bied ook ‘n formele opleidingsgeleentheid vir die San-mense om hier en elders hul voete te vind.
!Khwa ttu is in baie opsigte ‘n moet-sien- en moet-ervaarplek.
Dit is vandeesmaand Afrikamaand.
Tussen die verskeie ontdek-geboue is daar vir die maand ‘n buitelynkaart van Afrika op die grond uitgekalk waar besoekers ‘n kompetisieklip kan pak. Elkeen wat vandeesmaand die Kuru-kunsuitstalling bywoon, kan ‘n genommerde klip verf en iewers op die Afrika neersit om in aanmerking te kom vir die prys – ‘n gratis nag se verblyf by !Khwa ttu.

Die Kuru-kunsuitstalling is Woensdag geopen.
In die hartjie van die Kalahari in Wes-Botswana by Ghantzi het ‘n handjievol rolspelers in die vroeë 90’s die Kuru-projek van stapel gestuur om vir lede van die nabygeleë D’Kar -gemeenskap geleenthede oop te sluit.
D’Kar lê langs die A3-roete na die Okavangodelta.
Kunstenaars uit dié Boesmangemeenskap se werk het sedertdien wêreldbekend geraak met meer as ‘n 100 uitstallings in onder meer Europa, Amerika en Australië. Hulle het ook al baie toekennings ontvang – gesamentlik sowel as individueel. Hulle werk is ook in private en openbare versamelings regoor die wêreld te vinde.
‘n Skildery van wyle Cgʼose Ntcoxʼo, een van die Kuru-projek se heel eerste kunstenaars, is in 1997 as British Airways se korporatiewe embleem aanvaar en het die stertvinne van agt British Airways-vliegtuie versier.

Die benadering van die Kuru-kunssentrum is nie om kunslesse aan te bied en die kuns op dié manier te beïnvloed nie, maar eerder om fasiliteite en materiaal te verskaf en kunstenaars aan te moedig om hulself uit te druk. Daar is tans 18 deelnemende kunstenaars.
Die kunsprojek spog vandag met ‘n ateljee, ‘n aparte drukkamer en donkerkamer waar ook afdrukke gemaak word.
Die kunstenaars van D’Kar, ‘n ou sendingstasie, verbind hul eietydse lewe met hul oertradisies waar die gebruik van simboliek ‘n voortsetting van die antieke rotskuns van hul voorouers kan wees. Kleur is ‘n sterk komponent van die kuns. Die temas beeld van veldkos, veldkosversameling, voëls, kralewerk, kledingstukke, tradisionele juweliersware, die natuur, diere, mitiese wesens en mense uit.

Die mense van D’Kar praat die taal Nharo, een van die mees geprate Tshu–Khwe-tale.
Woensdag het drie van dié San-kunstenaars – Qhaqhoo Xare, Ncaote Thama en Sholex Cgara – die opening by !Khwa ttu bygewoon. Hulle is vergesel van Pieter en Maude Brown en hul dogter Maudie.

Pieter Brown, Maudie Brown, Qhaqhoo Xare, Ncaote Thama, Sholex Cgara en Maude Brown.

Ma en dogter (self ‘n kunstenaar wat al saam met haar kunstenaarpa uitgestal het) koördineer die Kuru-kunsprojek nadat Pieter dit sedert 1993 gedoen het.
By die opening het Michael Daiber, hoof- uitvoerende beampte van !Khwa ttu, die kunstenaars bedank vir die wonderlike werk wat hulle doen.
Maude Brown het !Khwa ttu bedank vir die geleentheid om daar uit te stal.
‘n Fotoblik op die openingsdag. Die uitstalling duur vir die hele maand van Mei.

Leave a Reply

error: Content is protected !!