Riebeek-wa vind rusplek op Philadelphia
Die erfenisskatte van ‘n streek staan dikwels en stof vergaar in museums waar daar ook nie altyd volledig rekord van die stukke se verlede is nie.
Een so ‘n stuk het onlangs met die hulp van ‘n gewilde TV-programreeks nuwe lewe en ‘n paar lae verf gekry met ‘n splinternuwe staanplek op Philadelphia.
Bertus Basson, bekende sjef en restauranteienaar, se werklikheidsprogram op kykNET, In die Sop, hervorm as’t ware restaurante en koffiewinkels. Hy praat van ‘n restaurantewolusie. Hy het jare gelede sy sjefloopbaan by die Royal Hotel op Riebeek-Kasteel afgeskop.

Toe hulle besluit om vir In die Sop se derde seisoen ook die Pepper Tree Art Stable and Coffee Shop op Philadelphia ‘n nuwe gedaante te gee, het Misi Overturf, dekorkenner en die reeks se oormaak-spesialis, die idee gekry om ‘n ossewa by die dekor in te sluit.
Sy sê sy wou graag ruimte skep met ‘n ander spasie waar die vars produkte uitgestal kan word en ook die ouwêreldse wa as ‘n fokuspunt gebruik. Dat dit die storie van die geskiedenis kan vertel en mense ook met kinders daaroor kan praat in ‘n era waar alles so digitaal en so “instant” geraak het.

‘n Ossewa “was destyds ‘n baie belangrike vervoermiddel – dit kan nou vergelyk word met vragmotors met ‘containers’.
“Iets wat voorheen so algemeen en noodsaaklik was, is nou vergete – maar nie by Pepper Tree nie.”
Overturf het die wiele aan die rol gesit om ‘n wa te kry en ook een van haar diensverskaffers van houtwerkdienste op Wellington, Marius Fourie, gevra om ‘n wa te probeer opspoor en restoureer vir Pepper Tree.
‘n Advertensie op sosiale media het onder die oë van die Riebeekvallei Museum se mense beland en dit was die gulde geleentheid om ‘n bietjie meer ruimte in die museum te skep omdat daar meer as een wa in die museum was.

Toe die aanbod vir die ossewa kom, moes die besluit gou geneem word want die tyd was min. Op In die Sop word die restaurante in enkele dae oorgedoen en Fourie moes nog die wa restoureer.
Museumvoorsitter Chris Murphy vertel hul kan nie met sekerheid sê wat die oorsprong van die wa is nie. Daar is ongelukkig ook nie ‘n volledige inventaris met skenkers se besonderhede nie.
Overturf skryf “die ossewa is in alle waarskynlikheid in die 1900’s vervaardig – baie moontlik in die Wellington-area.”
Dit kom van ‘n plaas in Riebeek-Kasteel “en het daarom baie moontlik koring vervoer in Swartland.”
dié courant het met Fourie gesels oor die restourasie.

Dit was die eerste keer in die meer as 20 jaar wat hy houtwerk doen, wat hy so ‘n projek aangepak het. “Ons het min tyd gehad. Ons het dit oor drie dae gedoen.”
Hulle het die wa by die museum uitmekaar gehaal en na hul fabriek op Wellington geneem, waar hy die houtwerk onder hande kon neem en sy broer Johan (‘n meganiese ingenieur wat uit Amerika hier was) kon die staalwerk en swyswerk doen “sodat die wiele weer reguit kon hardloop”.

“Ons het die hele wa ‘gestrip‘. Die opdrag was dat hy ook moet veilig wees dat mense op hom kan klim en foto’s neem.” Hulle het dit dus ook aan die onderkant versterk.
Die kleure wat die wa geverf is, vertel Fourie, is die oorspronklike kleure waarmee die wa uitgekom.
In die Sop word nog Woensdagaande om 20:00 op kykNET vertoon. Hulle kuier is vandeesweek in Boston, Bellville. Die hele In die Sop-seisoen sal ook beskikbaar wees op Showmax.
