Darling Veldblomskou weer by klub gehou
Terwyl winter eersdaags sal begin nader kruip, skud Darling al weer die vere reg vir vanjaar se lenteskouspel met die jaarlikse Darling Veldblomskou wat oor ‘n raps meer as vier maande plaasvind.
Die skou vind oudergewoonte daar by die middel van September (vanjaar van 20-22 September) plaas.

Ná ‘n paar jaar by die dorp se museum, skuif die skou vanjaar terug na die Darling Country-klub waar dit reeds vir baie jare aangebied is. Daar is volop veilige parkeerplek wat aan besoekers maklike toegang tot dié wêreldbekende veldblomuitstalling asook die uitgebreide markarea bied. Besoekers kan weer uitsien na ‘n wye verskeidenheid kos, drinkgoed en talle ander produkte om te koop.

Naas die aktiwiteite by die skouterrein, sal Darling Toerisme ook ‘n pendelbusdiens oor die veldblomnaweek bedryf om besoekers die geleentheid te bied om ook ander besienswaardighede en aktiwiteite van Darling te sien en ervaar.

Die dorp en omgewing het heelparty gewilde besoekpunte vir toeriste waaronder restaurante, ‘n wynwinkel, wyn- en olyfproelokale, ‘n bekende slaghuis, brouery, toffie- en lekkergoedfabriek, Evita se Perron en een van die beste museums in die streek.

Tydens blommetyd is daar ook veldblomreservate met gratis toegang waar die veld en blomme in hul natuurlike omgewing van nader bekyk kan word.
Tussen 11:00 en 15:00 word as die beste tyd van die dag beskou om die blomme oop te sien. Sonnige dae is ook altyd beter.
Besoek gerus die Darling Toerisme-webwerf – www.hellodarling.org.za – of skakel die kantoor by 022 492 3361 of stuur ’n e-pos na darling@swartlandtourism.co.za vir meer inligting.
