CommunityLatestOns Mense

Swartlander jongste No 1-kandidaat in die land

Op ‘n reënerige herfsoggend in die Swartland ontmoet ek ‘n jong Swartlander vir koffie.
Jonk – net so ‘n paar maande voor sy 21ste verjaarsdag.
Ons praat Engels en gesels politiek.

Hy is in die Verenigde Koninkryk gebore waar sy ouers destyds gewoon het.
Robert King vertel sy pa, Tiaan (‘n Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner), het lank in Engeland gewerk en destyds sy ma, Lisa, daar ontmoet.
Die afgelope sestien jaar woon hulle al op Riebeek-Kasteel.
Hier het King van kleins af tuisonderrig ontvang in ‘n huis waar daar, vertel hy, baie oor politiek gesels en debat gevoer is. Dit als glo hy het die saadjie geplant vir sy groot belangstelling in politiek. Sy pa was wel ook betrokke by wykskomitees op munisipale vlak. Hy het ook ‘n jonger suster, Charlotte, wat binnekort haar tuisonderrig-studies voltooi. Sy oupa Ronnie King was vroeër jare ‘n senior redaksielid van Die Burger.
Nou is King die jongste nommer een-kandidaat van enige party in die naderende nasionale en provinsiale verkiesing die einde van die maand (29 Mei) en staan sy kop parlement toe.

Robert King

Hy is heelbo aan die lys van die jong Referendum Party op al drie lyste – nasionaal, streek en provinsiaal.
King het die Cambridge-kurrikulum gevolg en sê hy het die A-vlak (A levels)-eksamens in 2021 voltooi “en omtrent dieselfde tyd – nog voor sy 18de verjaarsdag – in die Kaapse onafhanklikheidpolitiek begin betrokke raak”. Tans is hy ‘n deeltydse student in politieke studies, filosofie en ekonomie by die Open University in die VK.
King vertel hy was eers lid van die Vryheidsfront Plus se jeuggroep en was ook al betrokke by munisipale verkiesingsveldtogte vir hulle.
Ons gesels ook oor sy besoek in Julie verlede jaar aan Downingstraat 10 in Londen. King sê jy kan nie sonder ‘n afspraak by daardie bekende deur van die Britse premier kom om ‘n brief te oorhandig nie. Hy het “namens die Kaapse Jeugfront ‘n belangrike brief oor die aanvalle op en ondersteuning van minderheidsregte in Suid-Afrika vir eerste minister Rishi Sunak gaan oorhandig”.
Die Referendum Party is in Oktober verlede jaar gestig uit die Cape Independence Advocacy Group (CIAG) “as ‘n enkelsaakparty vir inwoners van die Wes-Kaap wat Kaapse onafhanklikheid ondersteun”.

Hulle kantoor is by die ou looiery-gebou (Old Tannery) op Wellington, waar die leier van die party, Phil Craig, woon. King sê Craig het homself nie beskikbaar gestel vir die lys nie, omdat hy “eerder die strategie en bemarking wil lei en nie regtig op ‘n parlementêre posisie fokus nie”.
Gevra hoe dit gekom het dat hy as jongeling heel bo-aan die party se drie lyste is, sê hy hulle het binne die party gestem en hy dink sy toewyding het die deurslag gegee. Maar ook die kandidate in die tweede en derde posisie is nog onder die ouderdom van 30.
Die RP het ‘n ooreenkoms met die VF+ en die Cape Exit-aksiegroep om hul te beywer vir ‘n referendum vir Wes-Kaapse onafhanklikheid.
“Ja, dit is nuwe party wat ‘n paar maande gelede gestig is en ons probeer sien hoeveel ons die politiek as ‘n klein party kan verander.”
Hulle mikpunt is om op 29 Mei in die provinsie 100 000 stemme te kry en sodoende straks twee lede in die provinsiale parlement. “As die DA se steun in die provinsie onder 50% sou daal, sal hulle verplig wees om in koalisie te gaan en ons (die Referendum Party) kan dan moontlik deel van ‘n regerende koalisie wees.
“Ons het ‘n baie kort manifes, maar een van die dinge in ons manifes is dat in elke debat waarin ons praat, ons dit sal invul met die bespreking van Kaapse onafhanklikheid. Ons sal dit dus basies ‘n hoofstroomonderwerp in parlementêre debatte maak.”

Maar is onafhanklikheid vir die Wes-Kaap regtens moontlik onder die huidige bestel terwyl sommige regskenners nie so dink nie?
King sê met die regsmenings wat hulle ingewin het, is hulle doodseker dat dit wel is en dat die term “premier” in ouer bestaande nasionale wetgewing ingelees behoort te word in die plek van president om wel hierdie magte te bevestig.
Oor ekonomiese volhoubaarheid, antwoord King dat die provinsie “as tweede grootste bydraende provinsie tot die nasionale ekonomie” inderdaad ekonomies volhoubaar onafhanklik kan wees.
Voor ons groet, vra ek of hy dink hy sal opgewasse wees in debatte met van die land se mees gesoute politici. “Wel, ek was al in ‘n argument met Alan Winde (Premier van die Wes-Kaap) en van die ander leiers hetsy in persoon of in virtuele gesprekke.
“Kyk dit is nog steeds ‘n leerkurwe natuurlik en dit sal ‘n bietjie opleiding en oefening neem. Elke keer as ek in debat tree, voel ek meer en meer selfvertroue in hoe ek die situasie hanteer. En ja, ons gaan ‘n paar taai debatte moet voer en en ons gaan soms ‘n bietjie moed in die parlement nodig hê en ek hoop om dit te bied.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!