Debuutbundel om “voetspore te los” – Claassens
Ek wil nie hieruit geld maak nie, ek wil net ‘n paar voetspore los.
Só gesels Zurica Claassens van Malmesbury oor haar debuutdigbundel wat ‘n klompie maande gelede verskyn het.

Dié “enkelmamma van twee pragtige dogters wat die ultimumkroon op my hoof en die as is waarom my wêreld draai,” sê sy skryf al van kindsbeen af gedigte. “Dit is iets wat baie natuurlik by my kom.”
Hul woon die laaste paar jaar op Malmesbury.
“Bokdrol in die pad is ‘n versameling van gedigte wat oor die emosie en die lewe gaan.”
Jy lees van die “rooimiersoldaat” en hoe die bokdrol “voel”.
“Dis gebaseer op ‘n warboel van emosie wat in unieke styl boodskappies van die hart na die leser oordra. Elke gedig is ‘n blik wat ek het op die lewe.
“Sorg dat jy soos die wingerdstok aan God vashou.

“Sien die mooi eerste raak, want daar is genoeg ander wat die sleg uitwys.
“Vergewe om jouself vry te maak en los die straf in God se hand. Hy is regverdig.
Moenie toelaat dat ander mense van jou gedagtewêreld ‘n tronk maak nie. Dis nie hul wat daar moet leef nie, dis jy.”
Haar digbundel het as selfpublikasie by Malherbe Uitgewers verskyn.
Claassens sê poësie is vir haar ‘n “intieme wyse om emosies te deel. Maar so ook is poësie vir menige mense outyds, amper ‘n dinosaurus wat in William Shakespeare se era modern was. Deur van beeldspraak, humor en woordspeling gebruik te maak, wil ek lesers uitlok om weer ‘n liefde te kweek vir poësie in ‘n moderne era.”

Sy beskryf haar self as “charismaties en ‘n ewige optimis. Ek is ‘n kreatiewe wese wat pinatas bou en poësie en prosa is my passie.
“Ek dank ons God en Vader vir elke talent wat ek kan gebruik om ‘n saadjie of voetspoor in bekendes en onbekendes se siele te plaas.
“Soms is woorde al wat jy nodig het om aan vas te hou en weer vorentoe te gaan.”